VANDERBIJLPARK – Gerda Janssen is ‘n onderwyseres by Eureka Skool vir leerlinge met verstandelik en liggaamlike gestremdhede. Sy het ‘n hart van goud en hope empatie met elke kind in haar klas.
Op die oog af lyk sy vrolik, fiks en gesond. Dis moeilik om te glo dat sy elke dag in pyn leef weens ‘n seldsame longsiekte, Limfangiomiomatose (LAM).
In 2023 was daar net 13 persone in Suid-Afrika met die LAM diagnose. Juis omdat daar so min algemene kennis oor LAM en ander seldsame siektes is, doen Gerda haar bes om bewusmaking te skep.
In Oktober is sy deur die Rare Disease Foundation genooi om deel te wees van hul span, Ride 4 Rare, wat die Cape Town Cycle Tour gaan aandurf.
“Ek het gehuil nadat ek die uitnodiging gekry het. Bewusmaking lê my na aan die hart,” sê sy. Sy het jare gelede dieselfde fietsresies aangedurf, maar weens kwaai wind is sy op die 70km merk gestop.
“Ek was baie teleurgesteld, maar hierdie jaar gaan ek klaarmaak.” Fietsry was nog altyd haar manier om onder die spinnerakke in haar kop uit te ry.
Sy ry gewoonlik net vir die lekker, maar het besef vir die 109km resies sal sy meer oefening moet insit.
“Ons is ‘n groep wat saamry en ek kon vanaf einde November tot Januarie 400km ry.” Vandat die skole geopen het, oefen sy nou net Saterdae en Sondae.
Gerda vat die lang pad aan op ‘n e-fiets. Dis ‘n fiets met ‘n klein enjin. “Ek weet baie mense gebruik dit as scooters, maar ek stel die fiets op die swaarste stelling, sodat ek meer moet trap.”
Sy het onlangs ‘n oefensessie op ‘n gewone fiets probeer, maar haar longe kon dit net nie hou nie.
Die Cape Town Cycle Tour vind op 8 Maart plaas en vir Gerda is die resies baie persoonlik. Nie net ry sy vir almal met seldsame siektes nie, sy wil aan haarself bewys sy kan dit doen, ten spyte van die LAM waaraan sy ly.
