Rocking the Vaal: Meer as net pannekoek
Rocking the Vaal bou voort op ’n sterk rekordnalatenskap nadat die fees in 2025 drie Guinness Wêreldrekords opgestel het.
VANDERBIJLPARK – Daar is min geure wat soveel herinneringe wakker maak soos die reuk van vars pannekoek.
By vanjaar se Rocking The Vaal, op Saterdag, 11 April by Emerald Resort & Casino sal dié nostalgie behoorlik gevier word wanneer daar ook amptelik gepoog word om die grootste bediening pannekoek nog ooit te maak.
Duisende mense gaan deel wees van hierdie unieke oomblik waar kos, kultuur en gemeenskap saamkom.
Want hoewel ’n pannekoek tegnies eenvoudig is beteken dit vir mense veel meer as net bestandele. Tradisioneel warm bedien met kaneelsuiker of stroop, het dit oor eeue heen ’n plek in Suid-Afrikaanse harte gevind.
Volgens historiese bronne was pannekoek reeds in 1634 gewild onder minder gegoede studente in Holland. Teen die tyd dat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap aangekom het, was die gereg reeds bekend.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het krygsgevangenes selfs pannekoek gemaak as ’n manier om hul verlange huis toe te stil – ’n eenvoudige kos wat troos en herinneringe gebring het. Vandag is dit amper ondenkbaar om ’n basaar of gemeenskapsbyeenkoms sonder pannekoek voor te stel.
Die kunstenaars wat by Rocking the Vaal 2026 gaan optree, deel daardie nostalgie.
“Pannekoek laat my dink aan koue aande en reënerige dae en ’n warm show by die Vaal,” sê Irene-Louise van Wyk, wat glo dat daar iets besonders is aan die kombinasie van musiek en trooskos.
Vir Karlien van Jaarsveld is die liefde eenvoudig en sy het vertel dat pannekoek haar stapelvoedsel sal wees as sy ooit ’n keuse het.
Volgens Refentse gaan dit oor meer as net kos.

“Ek glo enige plek waar daar pannekoek gemaak word, is gewoonlik ’n plek waar mense nog tyd het vir mekaar. En om eerlik te wees, ’n warm pannekoek kan baie probleme oplos… of jou ten minste vir ’n rukkie laat vergeet van daardie probleme. Dis amper soos musiek… partykeer kom mense vir die konsert, maar hulle bly vir die gevoel.”
Die groep Droomsindroom beskryf dit as ’n eenvoudige geluk: “As ons aan pannekoek dink, dink ons aan ’n rustige Sondagmiddag, bietjie kaneelsuiker, ’n lekker pannekoek buite die supermark. Wat kan nou lekkerder wees as dit?”
Daardie gevoel van eenvoud, warmte en saamwees lê presies in die hart van Rocking the Vaal se visie. Dié fees, wat bekend geraak het vir sy groot gemeenskapsmomente en rekordpogings, wil met die nuwe pannekoek-rekord nie net geskiedenis maak nie, maar herinner aan iets wat almal verstaan – die krag van kos om mense bymekaar te bring.
Maak seker jy kry jou kaartjies en hou die sosiale media-platforms dop. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa. Indien jy wil deelneem of as borg betrokke wil raak, stuur ’n e-pos aan Sandy by admin@gtcoc.org.za.
Rocking the Vaal bou voort op ’n sterk rekordnalatenskap nadat die fees in 2025 drie Guinness Wêreldrekords opgestel het – waaronder die grootste pot pap (2 334 kg), die grootste bediening kebabvleis van drie kilometer lank, en die meeste mense wat terselfdertyd brood gebreek het.
Hierdie prestasies het die gemeenskap se samewerking en gees van eenheid op internasionale vlak uitgelig.
Rocking the Vaal word georganiseer deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC), in samewerking met Emerald Resort & Casino, wat as gasheer van die geleentheid optree.
(The Marketing Zoo – Vicki Rothman van der Merwe)
