NewsNews

Franz veg teen die groot K met hoop

Die diagnose het onverwags gekom, maar Franz Geldenhuys gaan hom nie laat onderkry nie.

VANDERBIJLPARK – Hy is bekend as onder andere sanger, orrelis, koorafrigter en onderwyser. Die een wat altyd gee en met geesdrif en passie sy werk doen.

‘n Paar weke gelede het hy egter gehoor dat hy vlak 4 limfklierkanker het wat reeds deur sy liggaam versprei het. Franz sê hy het September verlede jaar begin sleg voel en kon nie eet nie.

Die dokters het eers gedink hy het ligte beroertes gehad, maar toe kry hy verskriklike pyn op sy niere. Die diagnose was nierstene.

Intussen het hy baie gewig verloor, steeds sleg gevoel en geen energie gehad nie. Dit was eers na ‘n kolonoskopie wat die ontstellende diagnose gemaak is.

Franz is dadelik in die Baragwanath-hospitaal opgeneem vir ‘n week. Hy beskryf dit as ‘n week van hel, oor die vuil toestande en die manier hoe die verpleegpersoneel die pasiënte hanteer.

Gelukkig is hy nou as buitepasiënt geregistreer by die onkologie-afdeling. “Ek het sewe professore wat na my kyk. Hulle het gesê hulle kan die kanker behandel. Die onkologie afdeling is in ‘n nuwe gebou en alles daar is net van die beste.”

Franz moet eenmaal per maand vir ‘n jaar lank gaan vir chemoterapie. Hy het verlede week die eerste behandeling ondergaan.

“Hulle noem die chemo wat ek kry, die Rooi Duiwel. Ek was vir ‘n week daarna baie siek.” Maandag was hy egter terug by Hoërskool Vaalpark waar hy musiek aanbied en het hy ook weer met koorafrigting begin.

Hy het selfs Sondag weer orrel gespeel by NG Driehoek. “Dit was moeilik, maar ek het dit gedoen.”

Hy is baie dankbaar teenoor sy eggenoot, Edward, wat nou alles oorgeneem het van huis skoonmaak tot om Franz rond te ry. Edward het Chroniese Obstruktiewe Longsiekte en is permanent op suurstof, maar het gelukkig draagbare suurstof wat dit vir hom moontlik maak om Franz te help.

Franz se kollegas by die skool het ingespring om te help met fondsinsamelings om ekstra kostes te dek. Alhoewel hy ‘n staatspasiënt is, is hy oral net op kontrak en as hy nie werk nie, is daar nie geld nie.

Hulle verkoop kolwyntjies by die skool teen R10 stuk en het ook ‘n Back-a-Buddy rekening oopgemaak.

Franz sê hy was te trots om self geld te vra, maar is oorweldig deur die ondersteuning wat hy ontvang. “Ek kan net dankie sê.” Hy glo hy gaan gesond word.

“Jy weet K staan tussen J en L in die alfabet en JL staan vir Jesus Liefde. Hy gaan my hier deur dra.”

Franz weier om op te gee. Hy sit nou tydens lesaanbiedings, maar gee steeds klas. “Mense moet besef ek is nog ek. Die kanker definieer my nie.”

Dan is hy ook opgewonde, want tussen al die seer het hy ook goeie nuus gekry. Volgende week ontvang hy ‘n toekenning vir sy lewenslange bydra op kultuur gebied in Alberton.

Een ding is verseker: Franz voel hy het nog baie om te gee en om te doen en hy gaan hom nie laat onderkry deur die siekte nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button