Opposisiepartye kniehalter ELM-aansuiweringsbegroting
Opposisiepartye het die Emfuleni-plaaslike regering se aansuiweringsbegroting gestuit en behoorlike provinsiale inset word verwag.

Die raad het nie die begroting goedgekeur nie, grootliks weens volgehoue teenstand teen sekere aspekte daarvan.
“Die VF Plus het beduidende finansiële risiko’s uitgewys en dat dit nie ten volle voldoen aan die vereistes van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) nie,” sê raadslid Gerda Senekal.
Spesifieke punte wat uitgelig is sluit in:
• Rente-uitgawes wat voortspruit uit wanbetalings aan grootmaatverskaffers (soos water en elektrisiteit) is nie in die aansuiweringsbegroting ingesluit nie. Sodanige uitgawes kan ingevolge die MFMA as ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes gekwalifiseer word.
• Daar bestaan afwykings tussen die begrote en werklike kontantposisie van die munisipaliteit, asook ‘n swak inkomste-invorderingsrekord oor die afgelope jare.
• Die begrotingsverslag bevestig dat swak invordering die beskikbare surplus verminder het, sodat die voorheen goedgekeurde surplus nie meer beskikbaar is nie. Dit verhoog die risiko vir toekomstige finansiële onstabiliteit en kan dienslewering verder beïnvloed.
Die VF Plus het verder beklemtoon dat, volgens die Munisipale Begrotings- en Verslagdoeningsregulasies (MBRR) en provinsiale prosedures, die aansuiweringsbegroting eers aan die Gautengse provinsiale tesourie voorgelê moet word vir evaluering voordat dit aan die raad vir finale goedkeuring voorgelê word.
“Goedkeuring sonder behoorlike provinsiale inset kan verantwoordelike finansiële bestuur ondermyn en toesig oor openbare fondse verswak.
“Weens die afkeuring sal die speaker van die Emfuleni-raad, Sibongile Soxuza, nou ‘n aansoek moet rig aan die provinsiale tesourie en die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamobola, vir uitstel van die sperdatum vir goedkeuring van die aansuiweringsbegroting. ‘n Hersiene en meer realistiese begroting sal dan aan die raad voorgelê moet word,” sê Senekal.
“Die VF Plus beskou hierdie uitkoms as ‘n belangrike stap om die munisipaliteit te dwing om ‘n meer verantwoordelike en realistiese finansiële plan te ontwikkel tot voordeel van die inwoners van Emfuleni. Dit moet beter finansiële bestuur en volhoubare dienslewering prioritiseer bo korttermyn-oplossings,” het Senekal afgesluit.
