SASOLBURG – Rozaan Steyn, haar mede-MS Warriors en MS Hoop ondersteuners het Saterdag hul eerste uitdaging vir die jaar aangevat.
Dit was ‘n 5 km pretstap aangebied deur AGS Suid in Sasolburg. Die groep het net na 08:00 saam met die ander stappers en drawwers voor die kerkgronde vertrek vir ʼn sirkelstap om weer by die kerk uit te kom.
Nie lank daarna nie, het die MS Warriors en ondersteuners hul verskyning gemaak van die anderkant af.

Alhoewel die vroeë oggendhitte ʼn paar laat sweet het, het die meeste nog breed geglimlag en vrolik hul medaljes in ontvangs geneem.
Daarna is daar lekker gekuier met pannekoek in die hand. Rozaan het gesê: “Dit was nie net ʼn fun run nie, maar ʼn dag gevul met hoop, samesyn en liefde.”
Sy het die staptog met haar elektriese rolstoel aangedurf. Haar liggaam wil nie altyd meer so ver stap nie. Soos Rozaan sê: “My liggaam het sy perke, maar hoop ken geen perke nie.”
“Dit was MS Hoop se eerste uitdaging vir die jaar. Ons het gestap om die kerk te ondersteun,maar ook om MS Warriors te bemoedig. Jy hoef nie alles alleen te dra nie.”
Die MS Warriors sien uit na hul volgende groot uitdaging, die Sasol Sasolburg Marathon wat 28 Maart plaasvind.
