Daar gaan weer lig wees in Barrageweg
Danksy die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer gaan daar dalk binnekort weer ligte langs sekere paaie in Sedibeng opgerig/herstel word.
Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het begin met die implementering van prioriteitspadrehabilitasieprojekte in verskeie streke van die provinsie as deel van die 2026 Ligte Padrehabilitasieprogram en dit sluit ook dele van die Vaal in.
Die program is daarop gemik om proaktiewe padinstandhouding te versterk deur middel van geteikende ingrypings wat padveiligheid verbeter, mobiliteit verhoog en kritieke padinfrastruktuur bewaar wat ekonomiese dienslewering regoor Gauteng ondersteun.
Sonder om ‘n doemprofeet te wees, kan mens dan net dat die ligte nie gesteel of beskadig sal word nie.
LUR Kedibone Diale–Tlabela het bevestig dat prioriteitsroetes in Tshwane, Sedibeng, die Wes-Rand en Johannesburg geïdentifiseer is ná omvattende assesserings van padtoestande.
“Die departement het ’n doelbewuste en strategiese benadering gevolg om sleutelkorridors en hoëverkeerroetes in alle streke van Gauteng te prioritiseer. Hierdie ingrypings is bedoel om die lewensduur van ons padinfrastruktuur te verleng, padveiligheid vir alle gebruikers te verbeter en ekonomiese produktiwiteit in die provinsie te ondersteun,” het LUR Diale–Tlabela gesê.
Die LUR het verder beklemtoon dat voorkomende instandhouding steeds die mees kostedoeltreffende benadering tot die bestuur van padbates is.
“Belegging in gestruktureerde padrehabilitasie stel die departement in staat om langtermyn-rekonstruksiekoste te minimaliseer, terwyl veiliger en meer betroubare reise vir motoriste, vragoperateurs en openbare vervoergebruikers verseker word,” het die LUR verduidelik.
“Ons versterk toesig, inspeksies en die aanspreeklikheid van kontrakteurs om gehalte-vakmanskap en waarde vir geld te verseker,” het sy bygevoeg.
Die omvang van die werk sluit in die seël van krake, die herstel van slaggate, heroppervlakte-behandeling, herstelwerk aan asfald- en plaveisellae, hellingstabilisering, herstel van wegspoelings, dreineringskonstruksie en -skoonmaak, herstel van skutreëls, padmerke, die vervanging van kat-oë, asook die verwydering van onwettige tekens en ongemagtigde toegangspunte.
Motoriste word versoek om versigtig te wees in die konstruksiesones en om alle verkeersmaatreëls te gehoorsaam wat ingestel is om padgebruikers, sowel as konstruksiepersoneel te beskerm.
Prioriteitspaaie in Sedibeng:
Sub-streek A (Midvaal)
R59 (2 km)
D1463 (9 km)
D83 – Villierspad (5 km)
Sub-streek B (Emfuleni)
R59 (2 km)
R42 (P156/3) – Barrageweg (2 km)
