MEYERTON – Daar is lank beplan, borge gekry en seker gemaak alles is net reg vir 50 Shades of Spay se Walk & Wag dag. Die doel was om fondse in te samel om 50 Shades se veeartsrekening te betaal.

Natuurlik ook om vir honde en hul mens-ouers die kans te gee om bietjie uit te kom, met ander viervoetiges te kuier en ‘n lang stap saam met hul nuwe vriende te onderneem.
Die groot dag het uiteindelik Saterdag aangebreek. Teen 16:30 was daar honde van alle grotes by die Meyerton Sportklub.

Van hulle het rustig rondgeloop, ander het besluit dis beter om te sit en energie te bewaar vir die groot staptog.
Daar was wel ‘n jong pekinese wat gedink het hy is ‘n leeu en Rottweilers en Huskies veel groter en ouer as hy wou aanvat.

Sy jong eienaar het hom egter op kort leiband gehou en die groter honde het hom net verveeld aangekyk.
Die plan was om die honde-stap om 17:30 te begin, maar ‘n onverwagse, vinnige stofstorm het die aandag gevestig op die donker wolke wat begin saampak. Die stap het dus bietjie vroeër as beplan plaasgevind.
Na die staptog is die lootjies getrek, pryswenners aangekondig en verder gekuier terwyl die honde ontspan het.

Yvette Wilde van 50 Shades of Spay het al die dag se borge, deelnemers en die mense wat gehelp het met die organisering Walk & Wag bedank vir hul tyd en bydraes.
Die dag is deur hond en mens as suksesvol verklaar.
