VAAL MARINA – Mikyla Mc Lean (19) het dit haar missie gemaak om die gemeenskap op te hef en te help.
Dit het alles begin toe haar ma haar gehoorstukke en heelwat batterye vir dit vir ‘n man in Mamello geskenk het. Mikyla sê die man het gehuil van blydskap.
Dit het haar diep geroer en laat besef dat geen daad te klein is om ‘n groot verskil te maak nie. “Ek wou dadelik inspring en meer doen om die mense om ons te help,” vertel sy.
Sy het die daad by die woord gevoed en ‘n donasie-veldtog vir minderbevoorregtes in Mamello en Vaal Marina begin.
Tans is hul dringend op soek na die volgende items:
Skoolskoene, nuwes of tweedehands in ‘n goeie toestand. Sanitêre doekies vir die skoolmeisies. Vyf sokkerballe vir ‘n sokker geleentheid wat hul eersdaags vir seuns gaan hou.
Pantoffels en komberse om vir bejaardes te skenk. Dan wil hul ook begin met twee winter-sopkombuise (een in Mamello en een in die dorp), waar behoeftiges gratis sop kan kry. Daarvoor benodig sy pakkies sop en ander bestanddele.
“As jy enige van hierdie items het om te skenk, al is dit net een pakkie sop of ‘n ou paar skoene wat in die kas lê, sal dit die wêreld se verskil maak. Ek kom tel dit met groot liefde by jou op,” sê Mikyla.
Finansiële bydraes is ook welkom. Mikyla beloof dat daar streng boek gehou sal word en bewyse sal beskikbaar wees van presies hoe elke sent spandeer word om die gemeenskap te help.
Vir meer inligting en om betrokke te raak, stuur ‘n WhatsApp vir Mikyla op 078 120 8904.
