Local newsNewsNews

Inwoners aangeraai om ELM-waardasierol te bevraagteken

Die nuwe waardasierol sal tot verhogings vir baie inwoners lei, terwyl daar steeds min tot geen dienste deur ELM gelewer word.

Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus het ‘n beroep op inwoners gedoen om vóór 17 April 2026 beswaar aan te teken teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se nuwe eiendomswaardasierol.

Dié waardasierol, wat vir die tydperk van 2026 tot 2031 sal geld, tree op 1 Julie in werking en sal tot verhogings in eiendomsbelasting vir baie inwoners lei.

“Ons wil dit duidelik stel dat die VF Plus nie die buitensporige verhogings steun nie, aangesien die nuwe waardes huiseienaars nóg meer gaan belas terwyl daar steeds minder dienste in dié munisipaliteit gelewer word,” sê Senekal.

“Boonop word die nuwe rol vir kommentaar oopgestel sonder dat die bestaande eiendomswaardes met die faktureringstelsel gesinchroniseer is, wat tot verwarring en frustrasie by betalende inwoners lei”.

Die VF Plus is verder van mening dat die proses nie ten volle deursigtig is nie.

“Omdat Emfuleni nie deeglike openbare data oor presiese gemiddeldes van waardasie-verhogings uitgereik het nie, is dit bykans onmoontlik om vergelykings te tref met eiendomswaardasies in ander munisipaliteite.

“Huiseienaars wat ontevrede is oor die verhoogte belastingdruk wat die gevolg is van die administrasie se finansiële mislukkings, moet hul besware oor die nuwe waardasies so spoedig moontlik lug en nie wag tot die sperdatum nie,” raai Senekal aan.

Eiendomsbelasting is ‘n belangrike inkomstestroom, maar dit moet regverdig, deursigtig en korrek toegepas word.

Die waardasierol is beskikbaar op Emfuleni se amptelike webwerf by die volgende skakel: https://emfuleni.gov.za/valuation-roll/ .

Beswaarvorms is ook daar beskikbaar.

Waardasierol en beswaar

Inwoners kan ook die volgende munisipale kantore of biblioteke besoek om die waardasierol te besigtig en beswaar aan te teken:

  • Vanderbijlpark-munisipale kantoor
  • Vereeniging-munisipale kantoor
  • Masoheng Sebokeng-munisipale kantoor
  • Mafatsane Evaton-munisipale kantoor
  • Rus-Ter-Vaal-munisipale kantoor
  • Sharpeville-biblioteek
  • Bophelong-biblioteek

“Die VF Plus sal voortgaan om toe te sien dat eiendomsbelasting gehef word op die jongste eiendomswaardasies en dat die prosesse om die waardasierol saam te stel, aan al die wetlike vereistes voldoen,” sluit Senekal af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button