Local newsNewsNews

‘n Allemintige sprong vir jong Michael

Hierdie jongman gaan nog groot hoogtes bereik.

VANDERBIJLPARK – Hoogspring was nog altyd in sy bloed. Ure se oefen en baie harde werk gee hom elke jaar ‘n hele string eerste plekke. Die keer het Michael Redelinghuys homself oortref.

Twee weke gelede het hy ‘n eerste plek in die o17-afdeling losgespring by ‘n atletiekbyeenkoms aangebied deur die Hoërskool Wildeklawer en Helpmekaar by die Universiteit van Johannesburg.

Hy het vir die eerste keer 1,95m gespring en daarmee gekwalifiseer vir Atletiek SA se kampioenskappe wat eersdaags plaasvind.

Michael is tans in Graad 11 aan die Hoërskool Transvalia. Vandat hy in die hoërskool is het sy hoogtes met rasse skrede verbeter.

In Januarie 2023 het hy nog gedroom daarvan om 1,8m verby te steek en kyk waar staan hy nou. Sy volgende doelwit is om 2m te spring by die SA’s.

Dan is hy ook ‘n kranige 400m-atleet en hy hoop om ook vir die SA’s in hierdie item te kwalifiseer.

Michael is ‘n trotse Valie en sê hy wil goud huis toe bring vir sy skool. Hy leef volgens wat sy pa en afrigter, Michael (sr.) hom geleer het: Druk is goed. Wys jy kan deurdruk en opgee is nie ‘n opsie nie.

* By die SA Skole-kampioenskappe is die amptelike rekord vir seuns o17 tans 2,25m en behoort aan die legendariese Jacques Freitag wat dit in 1999 opgestel het.

Die amptelike Suid-Afrikaanse rekord vir seuns o18 (ook bekend as die jeugrekord) behoort ook aan Jacques, wat in 2000 met ‘n hoogte van 2,30m die rekordboeke herskryf het.

Die huidige Suid-Afrikaanse manshoogspringrekord van 2,38m behoort ook aan Jacques, wat dit op 5 Februarie 2005 in Oudtshoorn opgestel het.

Dit staan steeds as die nasionale rekord sowel as die Afrika-rekord, en is ook een van die langstaande atletiekrekords in die land.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button