VEREENIGING – Hy is gebore en getoë in Vereeniging. Hier het hy skoolgegaan en later sy ambag as ketelmaker (boilermaker) voltooi. Tony Knight is in murg en been ‘n Vaaldriehoeker.
Hy was ses jaar oud toe hy begin sing het. As volwassene was musiek ‘n kantlyn tydverdryf. Sy eerste seven single is in 1982 uitgereik. Daarna het hy nog twee uitgebring onder sy geboortenaam Ampie.

“Die groot platemaatskappy Warner Brothers in die VSA kon nie my naam uitspreek nie. Hulle het aanbeveel dat ek ‘n ander verhoognaam kry. Toe word ek Tony en nou reageer ek amper nie meer as iemand my skielik Ampie nie.”
In 2000 het hy besluit om sy ambag vaarwel te roep en om voltyds op sy musiekloopbaan te konsentreer. Met goeie gevolge.
Hy het verskeie treffers oor die jare gehad en het saam met groot name in die Country bedryf opgetree. Onlangs het hy vir sy lewensmaat, Debbie, gesê hy dink dis tyd dat hy ophou sing.
Sy wou niks daarvan hoor nie. Kort daarna het hy onverwags ‘n drie jaar platekontrak gekry. “Kan jy glo? Ek word 70 en hier het ek ‘n platekontrak. Hulle beplan groot projekte vir my,” vertel hy opgewonde.
Hy het juis besluit om vir sy 70ste verjaarsdag ‘n groot opskop te hou. “Ek verjaar eers 9 Maart, maar ons gaan die partytjie 7 Maart hou.”

Tony het ‘n klomp van sy sanger vriende bymekaar getrek vir ‘n vertoning die 7de by Sharky Town in Vanderbijlpark. “Daar is ‘n toegangsfooi, maar ek het nou al so baie kaartjies vir vriende en familie weggegee, ek gaan nie ‘n sent maak nie,” lag hy.
Vir hom is dit belangriker dat almal die aand geniet, want ‘n mens word net eenmaal 70. Hy sê daar gaan baie verrassings wees die aand.
Hy weet Debbie en kie beplan iets vir wanneer hy by die plek opdaag, maar hy het geen idee wat dit gaan wees nie.
Dan het hy ook ‘n verrassing of twee oor hoe hy op die verhoog gaan verskyn, maar daaroor wil hy nie uitbrei nie.
Die vertoning begin om 20:00, maar van die verrassings kan al hier van 19:00 begin. Kaartjies beloop R50 per persoon en kan bespreek word by 072 400 0075.
