Local newsNewsNews

Binnegevegte stuit voorlegging van aansuiweringsbegroting

Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit (Lesedi, Midvaal en Emfuleni) het nie daarin geslaag om betyds die voorgeskrewe aansuiweringsbegroting aan die raad voor te lê nie.

Dié mislukking is glo te danke aan binnegevegte in die regerende ANC.

Volgens Rian Lubbe (VF Plus-raadslid: Sedibeng-distriksmunisipaliteit) moes die aansuiweringsbegroting volgens voorskrifte van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) voor 28 Februarie aan die raad vir oorweging voorgelê word.

Hierdie sperdatum is egter gemis.

“Hierdie krisis het ontstaan nadat die ANC sy speaker, Moipone Modikeng, en burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Lulama Gamede, uit hul poste verwyder het,” sê Lubbe.

ʼn Nuwe speaker is nog nie aangewys nie wat beteken dat raadsittings nie wettig kan plaasvind nie.

“Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit ontvang jaarliks sowat R500 miljoen in billike aandele van die Gauteng-provinsiale regering waarvan sowat 80% na salarisse en werknemer-verwante kostes gaan, terwyl eie inkomste uit lisensiegeld en verhuring van geboue baie beperk bly.

“Die munisipaliteit se vermoë om basiese verantwoordelikhede uit te voer, het intussen ernstig verswak.

Totale verval by die Vereeniging-lughawe. Foto: Verskaf

“Een van die mees kommerwekkende voorbeelde is die Vereeniging-lughawe, waarvoor die distrik verantwoordelik is. Dié gerief is in ‘n kritieke toestand van verval met landingsligte wat gesteel is, ʼn onbemande beheertoring en berigte dat selfs diere op die aanloopbaan rondloop,” sê Lubbe.

“Die distrik finansier ook vier klinieke in die gebied en bedryf vier lisensiekantore op ‘n agentgrondslag, maar die algemene agteruitgang in bestuur en infrastruktuur bedreig die dienste verder.

“Die VF Plus het die burgemeester, Lerato Maloka, versoek om prioriteit te gee aan wetlike nakoming en om interne ANC-konflikte opsy te skuif tot voordeel van die inwoners van die distrik,” het Lubbe afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button