Dorp-substasie: Sekere areas kan dalk vandag krag hê
Daar word steeds hard gewerk deur personeel van Eskom en ELM om die Dorp-substasie moontlik vandag in werking te kry.
VANDERBIJLPARK – Duisende inwoners sit vandag vir reeds 14 dae sonder elektrisiteit na ‘n brand grootskaalse skade aan die Dorp-substasie aangerig het.
Vaalweekblad het vanoggend met Raadslid Gerda Senekal (wat reeds van die begin af haar bes doen inwoners op hoogte te hou oor die vordering) gesels oor die huidige stand van sake.
“Ek het met Eskom gepraat en hulle het die versekering gegee dat al die nodige herstelwerk en koppelings gedoen is, maar elke paneel moet nou getoets word voordat die amptelike aanskakeling gedoen kan word,” verduidelik Senekal.
Indien ‘n breaker nie reg funksioneer nie, moet alles oorgedoen word omdat ‘n breaker glo nie geïsoleer kan word nie. Daar moet dus vasgestel word hoekom die breaker “trip.”
Dit is glo waarmee daar op die oomblik besig is.
Sodra dié fout uitgeskakel is, kan die panele in fases aangeskakel word.
Dan is daar ook die kwessie van die nuwe transformer se olie wat eers moet warm word voordat die transformer aangeskakel kan word.
Dit neem sowat 8 ure vir die olie om warm te word, en daar is nog nie amptelik gesê of daar reeds daarmee begin is nie.
As daar wel reeds daarmee begin is, sal die transformer eers teen 16:00 vanmiddag getoets kan word.
“Daar word egter hard gewerk en daar word gepoog om die krag teen vanmiddag in sekere fases aangeskakel te kry. Daar sal dan ook eers vasgestel moet word watter substasies intussen gevandaliseer was. Dus al kom die Dorp-substasie vandag aan, gaan almal nie vandag elektrisiteit hê nie,” sê Senekal.
- ‘n Brand by die Dorp-substasie omstreeks 23:30 op Sondag, 22 Februarie het tot die grootskaalse skade gelei. Daar was uit die staanspoor gesê dat die herstelwerk ten minste twee weke sou neem.
Die areas wat daaronder lei sluit in:
CW 1, 2, 3, 5, 6
Bonanné
Bophelong
Bophelong-uitbreiding
NW7
Kleinhoewes



