NewsNews

Ek sê maar net… Sies, gagga, blegh… dit stink man!

RUBRIEK - Nee, net nee. So kan dit nie aangaan nie.

RUBRIEK – Ek was onlangs in die hospitaal waar ek baie medisyne en suurstof ingejaag is. Die suurstof nog steeds. Behalwe dat ek baie beter is, kan ek vir die eerste keer sedert ek Covid in 2021 gehad het, weer ruik.

‘n Mens sou dink dis ‘n goeie ding. Toe nou nie. Ek besef nou hoe stink die CW- en CE-areas van Vanderbijlpark. Pure riool.

Ook geen wonder nie. Oral loop water langs die pad en dis nie skoon water nie. In Hertz-boulevard, so van naby Cormed tot by die vierrigting stopteken, lyk dit alles behalwe goed langs die pad.

an is daar die crème de la crème van riool poele geleë op die hoek van Evereststraat en Frikkie Meyer-boulevard. Dit strek amper oor die helfte van die pad.

Die rioolwater borrel uit die gat en stoot al hoe verder in Everest op. Die stank is oorweldigend vir blokke daarna in enige rigting. Hoe die mense wat daar rondom bly dit hou, weet ek glad nie.

Dit het ook nie gister begin nie. Nee, die ding kom al maande. In so mate dat dit lyk asof daar  ‘n hele ekosisteem rondom die rioolgat ontstaan het. Plante groei al daar om.

Dis gerapporteer. Natuurlik is dit. Ek het selfs al die verwysingsnommer onder oë gehad. Elke week hoor ek gerugte dat dit reggemaak gaan word. Maar niks gebeur nie.

Ek weet inwoners maak baie maal slaggate reg, maar gewone inwoners sonder toerusting kan nie rioolpype herstel nie. Dis die munisipaliteit se werk.

Ons betaal vir riolering. Staan so op ons maandelikse rekening, maar die rioolwater kan maar in die strate tussen huise lê en vrot. Die munisipaliteit gee nie om nie.

Nie die burgemeester, munisipale bestuurder of enige ander hooggeplaaste lid van ELM woon in die ou gedeelte van Vanderbijlpark nie.

Hulle kry maandeliks hul hopeloos te hoë salarisse. Hoekom sal hulle nou omgee vir die gewone belastingbetaler?

Hierdie jaar is dit weer tyd vir plaaslike verkiesings. Ek hoop van harte die kiesers onthou die stank en die gebrek aan dienslewering wanneer hulle hul kruisies gaan trek. Tot dan is dit ‘n geval van vensters toe hou en asem ophou as mens verby die gemors ry. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button