Man in hegtenis vir moord op vrou in Meyerton
Die gemeenskap het onraad vermoed en die SAPD genader om ondersoek in te stel, maar dit was reeds te laat.

MEYERTON – ‘n 38-jarige man sal na verwagting vandag sy eerste verskyning in die Vereeniging-landrosshof maak, nadat hy in hegtenis geneem is vir die moord op sy vrou.
Sy vrou is op 3 Maart as vermis aangemeld ná bewerings dat hy haar met ‘n mes gesteek en in hul huis toegesluit het.
Die SAPD het ondersoek ingestel, maar nie die man of sy vrou kon in die huis gevind word nie.
‘n Soektog na albei is van stapel gestuur en op 5 Maart is die man in Vereeniging opgespoor, met die hulp van die Gemeenskapspolisieringsforum (GPF), en in hegtenis geneem.
Na ondervraging het hy die polisie na ‘n stroom gelei waar die slagoffer se liggaam binne-in ‘n herwinningsak gevind is.
Die man word van moord aangekla en sy eerste hofverskyning is vandag.
Boodskap van die SAPD
Die SAPD bedank die gemeenskap vir hul bystand met die vastrek van die verdagte.
Die SAPD beklemtoon dat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord die hulp van gemeenskappe benodig om dit stop te sit.
