NewsNews

Sasolburg para-swemmer bereik sy doelwitte die een na die ander

Hy dra sy nasionale kleure met trots. JP Nel swem sy drome een vir een los.

SASOLBURG – Hy swem al vandat hy vyf jaar oud is en van toe af droom hy om Suid-Afrika te verteenwoordig. JP Nel is para-swemmer in die S14kategorie.

Hierdie kategorie is spesifiek vir swemmers met intellektuele gestremdhede wat ‘n stadiger reaksietyd het en wat sukkel om byvoorbeeld die volgorde van gebeure of patrone te herken of te onthou.

Die afgelope tyd het een van sy drome sommer twee keer waar geword. Hy het verlede jaar Suid-Afrika by ‘n swemgala in Taiwan verteenwoordig en kort daarna is hy gekies deur die Suid-Afrikaanse Sport Federasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) om aan die 2026 Para Swimming World Series deel te neem.

Die kompetisie is in Februarie by die Gold Coast Aquatic Centre in Australië gehou. JP het aan verskeie items deelgeneem van die 100m-vlinderslag tot by die 400m-vryslag.

Langer afstande is sy kos en hy het sy eie beste tyd in die 400m met 20 sekondes verbeter! Alhoewel hy baie trots was op sy prestasie, was dit bittersoet, want om SA te verteenwoordig en sulke goeie tye te behaal was waarvoor JP en sy voormalige afrigter Benny Janssen al die jare gewerk het.

Coach Benny se afsterwe ‘n paar jaar gelede was vir JP ‘n swaar slag en dit het hom ‘n ruk gevat om aan te pas.

Vandag is hy egter deel van J’s Aqua en werk hy en sy afrigter Junita le Riche goed saam. Hy is ook gewild onder die klub se juniors en die vlak 1-swemmers voel hulle kan net swem as JP in die omtrek is.

JP en die res van die SA span was vir 10 dae in Australië en hy sê hy wou daar gebly het. Terug in SA en hy maak gereed om by groot byeenkomste in Nelspruit en Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) te gaan swem.

Enige toekomsplanne? Hy oorweeg dit om swemafrigter te word, soos Coach Benny altyd gesê het en dan wil hy nog sy grootste, groot droom bereik, om SA by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button