NewsNews

Die Vaal se voëlringer van formaat

Ons maak nader kennis met Shonie Raijmakers ‘n Vlak A voël ringer in Vanderbijlpark

VANDERBIJLPARK – In die voortuin is twee nette gespan. Baie spesiale nette, ontwerp om voëls mee te vang sonder om hul seer te maak.

Daar hang ‘n paar katoensakkies agter die tafel in die tuin. Elkeen bevat ‘n voëltjie wat wag om geweeg, gemeet en gering te word. Die sakkies is van so aard dat die voëls kan asemhaal.

Die tafel is gedek met spesiale toerusting, van ‘n weegskaal tot by ‘n tipe liniaal waarmee die voëls se vlerke gemeet word.

Shonie Raijmakers haal ‘n jong duif van die net af.

Om voëlringer te wees, is nie ‘n maklike taak nie, maar Shonie Raijmakers doen dit al vir langer as 40 jaar.

Hy het van kindsbeen af van voëls gehou en hy en sy broer, Kobie het gereeld gaan voëls kyk langs die rivier. Die ring van die voëls het eers jare later gevolg nadat Kobie se paaie met Geoff Lockwood s’n gekruis het.

Geoff is ‘n kenner op die gebied van wilde voëls wat al boeke geskryf en geïllustreer het. As ‘n gekwalifiseerde voëlringer het hy die Raijmakers onder sy vlerk geneem om hul vakleerlingskap as voëlringers te doen.

Rooibors Houtkappers is byters. Shonie moet versigtig wees om nie stukkend gebyt te word nie. Foto’s Gerda Bruinette

Shonie sê dit vat jare se leer en oefening onder leiding van ‘n mentor alvorens jy op jou eie kan voëls ring. Die belangrikste is dat ‘n voornemende ringer die voëls moet kan identifiseer en weet hoe om hulle sonder om seer te maak.

Jy kan eers ‘n Vlak A-ringer word nadat jy 500 voëls van 50 spesies onder mentorskap gering het.

Al die data wat hy en die ander 200 aktiewe ringers in SA versamel, word elke ses maande na die Universiteit van Kaapstad gestuur waar ‘n groot databasis gehou word.

Dit gebeur gereeld dat Shonie voëls vang wat reeds gering is, dan meet en weeg hy die voël voordat dit vrygelaat word.

“Ringers het toegang tot die databasis en dis interessant om te sien waar die voël gering is. Van die voëls vlieg baie ver.

“Ek het eenkeer ‘n Rooirug Laksman gekry wat in Israel gering is, maar wat oorspronklik van Portugal of Spanjé moes wees. Die laksman het meer as 10 000km gevlieg,” vertel Shonie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button