Motor na lekker kuieraand in Sasolburg gesteel
'n Lekker aand se kuier het 'n slegte nadraai gehad toe 'n plaaslike inwoner se voertuig gesteel is.
SASOLBURG – ‘n Man van die dorp het verlede Donderdag heerlik by ‘n plaaslike klub gekuier, maar in die proses het sy motorsleutel verlore geraak en moes hy die volgende dag terugkeer om sy motor te gaan haal.
Maar dit was intussen gesteel.
Die man het dadelik ’n opsporingsmaatskappy in kennis gestel en ook die voorval by die polisie aangemeld.
Lede van die Fezile Dabi-distrik se TRIO-taakspan het saam met Sasolburg-misdaadvoorkoming onmiddellik op die inligting gereageer.
Hul ondersoek het hulle na die R57 in die rigting na Heilbron gelei, waar die voertuig uiteindelik in die Heilbron-omgewing gewaar en voorgekeer is. Drie verdagtes, ‘n man (33) en twee vroue (27 en 28), is in hegtenis geneem.
Hulle sal na verwagting in die week in die Heilbron-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.

