Local newsNewsNews

R100 000 op die spel in FAK-Skryf’it-kompetisie

Behalwe vir die bekende kunstenaars wat as mentors en beoordelaars optree, is daar ook 'n nuwe kunsmatige intelligensie (KI) wat die kompetisie baie interessant maak.

Inskrywings vir die tweede FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie open op 16 Maart, en met pryse ter waarde van R100 000, insluitend R25 000 kontant, beloof vanjaar se kompetisie om selfs groter, meer dinamies en meer relevant te wees.

FAK-Skryf’it 2026 spog met ’n indrukwekkende paneel bekende kunstenaars wat as mentors en beoordelaars optree, groot belangstelling van aspirant-liedjieskrywers, en die bekendstelling van ’n nuwe afdeling wat die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in musiek verken.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is die kompetisie nie net daarop gemik om nuwe Afrikaanse liedjies te ontdek nie, maar ook om ’n breër gesprek oor die tegnologiese omwenteling in die musiekwêreld aan die gang te sit.

“Tegnologie ontwikkel teen ’n ongelooflike tempo, en kunsmatige intelligensie speel toenemend ’n rol in hoe musiek geskep en vervaardig word. Pleks daarvan om hierdie werklikheid te ignoreer, kies ons om dit verantwoordelik te hanteer,” sê Müller.

Hy beklemtoon egter dat een fundamentele element van liedjieskryf nooit sal verander nie. “Tegnologie kan klanke skep, maar mense skep liedjies. Die hart van ’n Afrikaanse liedjie sal altyd in die lirieke lê – lirieke wat uit menslike ervaring en emosie deur storievertelling gebore word. Die hart van Afrikaans kan nie geprogrammeer word nie.”

Twee afdelings, een taal

Vir die eerste keer kan deelnemers aan FAK Skryf’it in twee afdelings meeding.

Die eerste is die tradisionele liedjieskryfafdeling, waar elke element van die liedjie – van die lirieke en melodie tot die produksie – geheel en al deur mense geskep moet word.

Die tweede afdeling fokus op KI-verwerkte produksies, waar tegnologie as hulpmiddel in die verwerking of produksie van ’n liedjie gebruik mag word.

Daar is egter een belangrike reël wat vir albei afdelings geld: Die lirieke moet 100% oorspronklik deur ’n mens geskryf wees.

Volgens Müller is hierdie balans doelbewus geskep. “Ons probeer nie tussen tegnologie en tradisie kies nie. Skryf’it bied ’n tuiste vir tradisionele liedjieskrywers, maar ook vir innoveerders wat nuwe klanke wil verken. Uiteindelik sal die publiek help besluit wat hulle in Afrikaanse musiek wil hoor.”

Eerder as om KI as ’n bedreiging vir kunstenaars te beskou, poog die kompetisie om die debat as ’n katalisator vir kreatiwiteit te gebruik. “Die vraag is nie of KI kunstenaars sal vervang nie,” verduidelik Müller, “maar hoe tegnologie verantwoordelik gebruik kan word sonder om die siel van Afrikaanse musiek te verloor.”

Groot name as ghoeroes

Een van die groot trekpleisters van Skryf’it 2026 is die indrukwekkende lys bekende Afrikaanse kunstenaars wat as mentors of ghoeroes gaan optree.

Vanjaar se ghoeroes sluit in Danie “Reënwolf” du Toit, Ampie, Andriëtte Norman, William Wolf en John-Henry Opperman van Klopjag. Hierdie kunstenaars gaan die deelnemers wat na die finale rondtes deurdring begelei, insig gee oor die skryfproses en help om dié opkomende talent in die Afrikaanse musiekbedryf te ontwikkel.

“Hierdie kunstenaars weet wat dit verg om ‘n treffer van ’n liedjie te maak en hoe om deur lirieke aan mense se harte te raak,” sê Müller. “Die ghoeroes bring jare se ervaring, maar ook ’n passie om die volgende generasie liedjieskrywers te help ontwikkel.”

Sterk beoordelaarspaneel

FAK-Skryf’it spog ook met van die mees gerespekteerde name in Afrikaanse musiekbedryf op die beoordelaarspaneel. Dit sluit in Jakkals Vibes, Blixim Straat, Steve Hofmeyr, Gian Groen, Pieter Smith, Bibi du Preez, Logan Pietersen (2025 se Skryf’it-wenner), Monica Maree, Stefan Jansen, Jannie du Toit en Machiel Roets.

“Hierdie paneel verteenwoordig verskillende style en genres van Afrikaanse musiek,” sê Müller. “Dit verseker dat die kompetisie geloofwaardig is en gee deelnemers die geleentheid om hul werk met ware kenners in die veld te deel.”

Platform vir nuwe stemme

Die kern van FAK-Skryf’it bly egter die ontdekking van nuwe Afrikaanse liedjies en vars stemme. Die kompetisie is oop vir alle aspirant-liriekskrywers.

“Elke groot Afrikaanse lied het êrens begin – op ’n stuk papier, in ’n notaboek, of as ’n eenvoudige idee,” verduidelik Müller. “FAK-Skryf’it het ontstaan om daardie geïnspireerde oomblikke ’n kans te gee om tot ten volle gerealiseerde liedjies te groei.

“Afrikaans bly ’n lewende taal wat groei en ontwikkel. Nuwe generasies bring nuwe stories, ervarings en klanke. As ons wil hê Afrikaans moet modern, relevant en dinamies bly, moet ons aanhou om nuwe liedjies te skryf,” sê hy.

Deur Skryf’it wil die FAK meer doen as net ’n kompetisie aanbied. “Ons glo dat Afrikaanse musiek ’n ongelooflike toekoms het,” sê Müller. “Maar daardie toekoms begin altyd met ’n liriek – met iemand wat besluit om sy of haar storie te vertel. Die debat oor tegnologie, insluitend KI, is nie ’n bedreiging is nie, maar ’n geleentheid om kreatiwiteit te stimuleer, grense te verskuif en nuwe idees te inspireer. Musiek ontwikkel, die wêreld ontwikkel – maar die hart van ’n Afrikaanse liedjie sal altyd ’n menslike storie wees wat ’n ander persoon raak.”

Besoek Skryf’it.co.za om meer inligting te kry en jou lirieke in te stuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button