Vlugvoetige James dans nou in die hemel
Oud-joernalis rus nou in vrede na lang siekbed.
VANDERBIJLPARK. – James Farr (68), ‘n oudverslaggewer van Vaalweekblad en Ster, is Sondagoggend na ‘n lang siekbed in die Siësta-ouetehuis oorlede.
James is op 5 September 1958 in Engeland gebore en het as jong seun saam met sy ma na Suid-Afrika verhuis. Sy joernalistieke loopbaan het in die vroeë 1980’s by die destydse Vereeniging News begin.
Met Vaaldriehoek-Uitgewers (nou MooiVaal Media) se oorname van Vereeniging News/Vaal Ster in 1982, het James sy loopbaan by MooiVaal voortgesit. Hy was byna 40 jaar ‘n verslaggewer en Engelse subredakteur van Vaalweekblad en Ster totdat hy met pensioen afgetree het.
“Oudkollegas sal James veral onthou vir sy besonder wye algenene kennis. Hy het ‘n groot belangstelling in aktuele sake en politiek gehad, maar was ook wydbelese oor onderwerpe soos klassieke musiek, taalkunde, wêreldgeskiedenis, sterrekunde en godsdiens.
Hy sal veral vir sy droe humorsin onthou word,” se Retha Fitchat, voormalige redakteur van Vaalweekblad.’n Lang stryd teen diabetes het sy voete en bene in so ‘n mate aangetas dat hy as volwassene moeilik geloop het, dus sou min mense kon raai dat hy in sy jong dae ‘n uitstekende “ball room dancer” was – ‘n talent wat hy van sy oorlede ma, wat op haar dag ‘n bekende dansafrigter was, geërf het.
James was gedurende die Covid-inperking vir meer as 6 weke in ‘n geïnduseerde koma op ‘n ventilator maar het mettertyd goed herstel.
Sy gesondheid het egter die afgelope maande stelselmatig agteruitgegaan totdat hy so verswak het dat hy feitlik ten volle bedlêend geraak het.
Sy sig het ook in so ‘n mate verswak dat hy nie meer sy gunsteling aktiwiteite – lees en TV-kyk – kon beoefen nie. James was nooit getroud nie en het buiten vir ‘n stiefsuster in Amerika, geen oorlewende familie gehad nie.
Hy het egter nog gereeld kontak met ‘n groepie ou vriende en oudkollegas gehad, wat privaat van hom afskeid sal neem.
