RUBRIEK – Ek skryf hierdie op Woensdag, 11 Maart. Hopelik teen die tyd van publikasie is die probleem opgelos. Nie dat ek my geld daarop sal sit nie.
Maar, vandag is dag 17 sonder elektrisiteit in die areas wat deur die Dorp Substasie van krag voorsien moet word.
Die plek het mos weer in vlamme opgegaan en sedertdien is dit foon en ligte laai elke dag. Yskas en vrieskas staan oop. Wat daar in was is lankal of verlore of by Johan gestoor.
Kosmaak is uit. Ek glo nie aan skottelgoed was met koue water nie, veral nie potte en panne nie. Koffiebekers en glase kan nog gaan.
Ek het darem my pa se gasbottel en ou keteltjie van die jare toe hy nog visgevang het. Dit help vir koffie maak in die oggende.
Koffie met verromer in, want melk word suur al koop ek net ‘n klein botteltjie. Ek hou nie van koffie met verromer in nie, maar dis darem beter as swart koffie.
Vanoggend het ek vir die eerste keer die groot pot uitgehaal en water gekook vir die wasbak wals polka.
Tot dusver het ek ‘n koue stort in die oggende aangedurf, maar vanoggend was dit net te koud en ek moes hare was. Moeilik met lang hare en net ‘n pot vol warm water by ‘n wasbak.
My hart gaan uit na die mense met babas en kinders. Hoe hou hulle dit? Wat van die mense wat afhanklik is van suurstof?
Intussen leer ek nuwe woorde elke keer as ELM onthou om ‘n persverklaring uit te stuur. Hulle praat van protecting en soaking. Ek moes vir Antie Google gaan vra wat beteken dit om ‘n transformator te soak.
Iets met ‘n lae-dosiskrag wat deurgestoot word om te kyk of daar enige foute is. Wel, die transformator het laasnag soaking ondergaan en vanoggend vroeg het die boodskap deurgekom… Dit het die soaking gefail.
Wat presies fout is, is in tegniese terme beskryf wat ek nie lus was om te Google nie. Feit is, daar is steeds nie krag nie.
So vanaand hoor ek weer die gedreun van kragopwekkers, terwyl ek en Baba Bessie voor die toe staalhek sit en na die enigste sigbare ster staar. Sela!
