KAAPSTAD – “Ek het dit gedoen!” glimlag Gerda Janssen breed. Sy het die Cape Town Cycle Race klaargemaak.
Gerda het die fietsresies die eerste keer in 2019 aangepak, maar moes stop rondom 70km weens sterk wind.
Daarna het sy nie weer probeer nie, totdat die Rare Disease Foundation haar genooi het om die resies onder hul Ride 4 Rare-vaandel te doen.
Sy het hard geoefen, ure op die pad deurgebring en toe sy haar oë uitvee, was sy in die vliegtuig op pad Kaapstad toe.
Gerda het nie net vir Ride 4 Rare gery nie, sy het self ‘n seldsame longsiekte, Lymphangioleiomyomatosis (LAM) en Osteoartritis in haar lae rug. Albei siektes veroorsaak ondraaglike pyn wat fietsry nie makliker maak nie.
“Ek was bang en emosioneel voor die tyd,” erken sy. Die 109km-wedren het ook nie baie goed vir haar begin nie. Met 80km oor was haar rug so seer dat sy by die fisioterapeute langs die pad moes stop vir behandeling.
Die hele pad was ‘n emosionele stryd, maar ek het die heeltyd vir myself gesê, ek dink ek kan dit maak. Ek het ook al die pad gebid en vir die Here gevra dat ek nie moet val nie. Nie moet seerkry nie,” vertel sy.
Sy het veral die stuk pad langs die see baie geniet, maar sê dit het gevoel asof die laaste 10km net nie wou klaar nie.
Van tou opgooi was daar geen sprake nie en sy het net aanhou trap totdat sy oor die eindstreep gery het.
“Die oomblik toe hulle daardie medalje om my nek hang, het ek soos ‘n wenner gevoel. Dit was onbeskryflik,” vertel sy trots.
