SASOLBURG – HTS Sasolburg se waarnemende hoof Stefan Geldenhuys is vriendelik, gesels en lag lekker, maar die Spanners weet hy kan baie streng wees.
Stefan het hoeka ‘n AA-progam begin by die skool en nee, dit staan nie vir Alkoholiste Anoniem nie, maar wel vir Attitude Adjustment. Enige leerling wat ‘n bietjie dissipline kort, beland in die saal met uitskryfwerk vir twee ure.
Is die uitskryfwerk nie na wense nie, dan kry hul nog agt bladsye en twee ure by. “Die meeste kom gou terug aarde toe op die manier. Ek dink dit werk beter as die ou dae se rottang,” lag hy.
Stefan het in Christiana grootgeword. Dis ‘n dorp in Noordwes (die ou verre Wes-Transvaal). Hier was hy in die gekombineerde laer- en hoërskool.
Na skool het hy by die Universiteit van die Vrystaat onderwys gaan swot. “Ek moes maar ‘n Kovsie word, want my ouer broer was reeds daar en my ouers het gesê hulle gaan nie na twee universiteite toe ry nie,” glimlag hy breed.
Met sy studentedae agter die rug het hy sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort begin in 2010. Hy het Ingenieurs Grafika en Ontwerp (ouer mense ken dit as Tegniese Tekeninge) aangebied.
Stefan het in 2013 by die personeelkorps van HTS Sasolburg as departementshoof aangesluit. Tien jaar later is hy aangestel as onderhoof en aan die einde van 2025 as waarnemende hoof.
Alhoewel hy sy nuwe pos geniet, mis hy dit om rugby af te rig. “Daar is nie tyd om dit te doen nie. Dis vir my erg, want ek het vir jare die eerste span afgerig,” vertel hy.
Dat hy ‘n rugbyman is, is duidelik. In sy kantoor hang ‘n geraamde Bloubul-trui wat deur verskeie rugby legendes geteken is, waaronder Joost van der Westhuizen en Naas Botha.
Dan is daar ook geraamde koerantuitknipsels van Frik du Preez se beroemde drie, jare gelede. Hoekom is hy ‘n Blou Bul-ondersteuner? “My pa het my reg groot gemaak,” is sy enigste kommentaar.
Die belangrikste in Stefan se lewe is familietyd. Hy het ‘n ouer broer en jonger suster en die drie is baie geheg aanmekaar. Hy maak ook ‘n punt daarvan om elke aand ‘n video oproep met sy ouers te hê.
“Ek is gelukkig en dankbaar vir my familie, my werk en my meisie,” beduie hy en die Spanners sou stomgeslaan gewees het as hul kon sien hoe hul grote hoof kan bloos.
