VANDERBIJLPARK – Kunstedraai se eienaars, Riëtte Odendaal en Franciska van der Merwe, het onlangs besluit dat hulle ‘n kunsuitstalling wil hou. So gesê, so gedaan.
Met hul kalenders gemerk vir 4 en 5 Maart het hulle met die organisasie en beplanning van hul eerste uitstalling begin.

‘n Oproep aan kunsskole en professionele kunstenaars vir kunswerke om uit te stal het hul aangenaam verras en teen 4 Maart het hulle 166 skilderye van alle groottes gehad.
“Ons het so baie kunswerke ontvang, dat ons die koffiewinkel ook moes inspan,” beduie Franciska. Die uitstalling het gratis toegang gebied aan enigeen wat kunswerke van nader wou besigtig.
Dit was van laatmiddag tot sowat 20:00 oop en het elke dag heelwat besoekers gelok. Alhoewel die doel was om kunswerke uit te stal, was daar van die skilderye te koop.
Besoekers kon hul besonderhede in ‘n boek skryf sodat die kunstenaars hulle na die tyd kon kontak.

Kunswerke van jonger kunstenaars het ook baie aandag getrek en net bewys dat daar ‘n toekoms vir die kunste in die Vaaldriehoek is.
Soos een van die besoekers tereg opgemerk het: “Ek het nooit besef hoeveel plaaslike talent daar in ons area is nie.”
Franciska en Riëtte het na vele navrae belowe dat daar later in die jaar weer ‘n uitstalling sal plaasvind, waar hulle hopelik nog meer kunswerke sal hê wat bewonder kan word.
