NewsNews

Verfkwas in die hand, maak sy ‘n verskil

Kuns is haar passie en sy dra dit met liefde oor aan haar studente wat soos familie voel.

VANDERBIJLPARK – Kleurvolle kunswerke begroet jou wanneer jy Carene Zietsman se kunsateljee betree. Hierdie is ‘n ander wêreld weggesteek van die gejaag en stresvolle bestaan daar buite.

Hier kan haar studente, van alle ouderdomme, hulself wees. Carene gee raad, maar sy skryf nie voor nie.

Sy dra selfs koffie aan. Rustige musiek in die agtergrond. Hier is geen haas nie. “Kuns was nog altyd deel van my identiteit. Ek was ‘n rustige kind, wat altyd in die hoekie gesit en teken het,” vertel sy oor ‘n beker koffie.

Carene is ‘n Valie in murg en been. Sy is in Vaalpark gebore en was in Vaalpark Primêr. Daarna is sy Transvalia toe omdat die skool kuns aangebied het. Na skool het sy Fine Arts by die Vaal University of Technology gaan swot, waar haar paaie met die befaamde Maggie van Schalkwyk gekruis het.

“Ek het ongelooflik baie by haar geleer.” Na universiteit was sy op die uitkyk vir werk waar sy haar Cuns kon inspan. Sy het die vorige eienaar van Kenosis School of Art and Creativity by ‘n kerkgroep ontmoet, wat vir haar ‘n werk aangebied het.

Carene was 22 toe die eienaar haar vra of wil sy die kunsskool hê aangesien hulle Kaap toe verhuis. Dié geleentheid het Carene natuurlik met albei hande aangegryp en vandag, 18 jaar later, is sy steeds nie spyt nie.

Nie net kan sy haar eie passie vir kuns uitleef nie, sy het ook daagliks ‘n positiewe invloed op ander se lewens.

“Ek dink een van die belangrikste dinge wat my kunsstudente, van die kinders tot by die volwassenes, leer is dat hulle nie hoef bang te wees om ‘n fout te maak nie. Die kunsskool word ‘n vangnet vir baie. Hierdie is my bedieningsveld.”

Die vier dames wat aan’t skilder was in die agterste gedeelte kom gesels-gesels uit. Dis duidelik dat hul mekaar goed ken en aanmekaar geheg is. “Hulle het almal mekaar hier leer ken en vandag is hulle vriende,” glimlag Carene tevrede.

Alhoewel sy nie altyd deur die dag tyd kry om te skilder nie, sal sy gereeld in die aande ‘n doek nader trek waaruit daar kort voor lank ‘n kunswerk in helder kleure verskyn.

Dis wie sy is, dis wat sy wil doen en sy voel geseënd dat sy haar passie vir kuns saam met haar passie om ‘n verskil in mense se lewens te maak, saam kan uitleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button