VANDERBIJLPARK – Moeilik om te bepaal wie het dit die meeste geniet, die mammas of die babas? Elke Maandagoggend ontmoet hul by Kunstedraai vir ʼn halfuur van musiek en beweging aangebied deur Corene Kotzé.

Met die vier jongelinge paraat op hul ma’s se bene gestasioneer het hul grootoog geluister wat hul moet doen, van maatjies hallo sê tot by die klokkies skud en stokkies slaan.
Die enetjie was nie heeltemal lus vir al die aksies nie en wou net pad vat, maar haar ma kon haar darem so bietjie omkoop met ʼn eetdingetjie of twee vanuit haar sak.

Die week se tema was in die kombuis, en daar is ywerig “gelamineerde papier toebroodjies” gemaak, denkbeeldige deeg uitgerol en met bietjie verbeelding mengsels in die lug geroer. Alles natuurlik op die maat van musiek.
Corene is ʼn voormalige onderwyseres met hope musiektalent en ʼn passie om dit oor te dra aan kinders tot vyf jaar. Elke opdrag word gesing en die kleingoed reageer flink en vinnig om goed weer te bêre.

Al is dit alles pret, leer die kinders speel-speel. Corene sê: “Deur musiek, sang, beweging, instrumente en speelse interaksie word belangrike vaardighede soos taalontwikkeling, luistervaardighede, koördinasie, ritme gevoel en sosiale vaardighede ontwikkel.”
Vir meer inligting besoek gerus Corene se Facebookblad Kindermusik Vaal Triangle Little Notes Music Academy.
