VEREENIGING – Kombineer honde, kinders en hondeliefhebbers saam en jy kan maar weet dit gaan prettig wees. Trek die honde, hul eienaars en die kinders soos Disney-karakters aan en, voila, ‘n dag om te onthou.

Dis presies wat verlede Sondag gebeur het toe daar by The Braai Wagon Disney Dress-Upkompetisies gehou is ten bate van ouer honde. Tans word daar 55 honde by die Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary gehuisves.

Vir hierdie honde is dit hul eie tehuis vir bejaardes. Weggegooi omdat hulle te oud geraak het, kan hul hier hul laaste jare in gerief met goeie kos en warm slaapplek spandeer. Hulle kan ook vrylik rondbeweeg, want geen hond word by die veilige hawe gehok nie.

Dit kos natuurlik heelwat om na die honde te kyk en aangesien ouer honde meer mediese kostes het, het die sanger Victor Bravo met The Braai Wagon en ‘n lang lys van borge saamgespan om ‘n spesiale fondsinsamelingsdag te hou.

Die deelnemers het baie moeite gedoen. Eerste was die hondekompetisie. Hier het Gizmo, ‘n shih tzu wat goed weet hy is die oulikste, die eerste plek opgeraap toe hy as die ottoman van Beauty and the Beast die rooi tapyt betree het.

Die tweede plek het aan Pebbles behoort. ‘n Yorkie aangetrek soos Minnie Muis, terwyl Miané Fourie en haar Husky as Rooikappie en die Wolf ook baie aandag getrek het.
Hermes Haven se chihuahua, Lacey, is as mej. Persoonlikheid aangewys. Sy het verkies om die heeltyd gedra te word.

Daar was heelwat kinders wat ook soos Disney-karakters aangetrek het en die beoordelaars moes goed kopkrap om die wenners aan te wys. Lynnic Fourie het met haar Sneeuwitjiekostuum eerste plek behaal, terwyl Blake Verwey as die ondier van Beauty and the Beast harte gesteel het.

Natuurlik moes die volwassenes ook kans kry om ‘n draai op die rooi tapyt te maak. Hier kon die beoordelaars nie anders as om die Drie Stiefsusters, Linel Visser, Mirinda Grace en Annelien van Basten, as wenners aan te wys nie.

Hulle het almal aan die lag gehad deur hul stryery om Cinderella se skoen aan te pas.
Die beoordelaars, Mrs. Supranational South Africa-finalis Gina Vorster, musikant en akteur Jean van der Westhuizen, en Hermes Haven se stigter, Herme Riley, kon maar net kop skud vir al die kaskenades op die rooi tapyt.

