Honde vergiftig sodat diewe kan toeslaan
Terwyl inwoners van sekere areas amper drie weke sonder elektrisiteit oor die weg moes kom, het boewe hul kans waargeneem om toe te slaan.

VANDERBIJLPARK – In die CW6-woonbuurt het twee inwoners die hartseer nuus gedeel dat hul honde onlangs gedurende die aand vergiftig is.
Die volgende aand het boewe op die substasie in die woonbuurt toegslaan met die hoop om koper en alles wat hulle as waardevol ag te stroop. Vinnige optrede deur inwoners het egter toegesien dat die boewe op die vlug moes slaan.
Dit sou waarskynlik veiliger vir honde en hul eienaars wees as die honde eerder in die huis as buite slaap. Sodoende kan hul nie vergiftig word nie en steeds alarm maak as iemand probeer inbreek.
Charnel Hattingh, groephoof van bemarking en kommunikasie vir Fidelity ADT, doen ’n ernstige beroep op alle inwoners om waaksaam te bly en proaktiewe stappe te neem om hul wonings te beskerm.
Onder normale omstandighede sal inwoners wat oor buitestrale (beams) beskik, dit aktiveer, maar sonder krag word wonings blootgestel.
“Tydens ondersoek het ons gevind dat verdagtes die gebied verken, honde vergiftig en dan later terugkeer om die misdaad te pleeg. Die verdagtes werk vinnig en is dikwels binne minute in en uit,” verduidelik sy.

Hattingh bied die volgende veiligheidswenke vir inwoners:
* Installeer solarligte wat tydens kragonderbrekings die erf kan belig.
* Verseker dat alle buitedeure met voldoende slotte toegerus is.
* Installeer geskikte spasieerders, slotte of boute aan alle skuifdeure om te verhoed dat hulle van hul spore gelig word – dit is die algemeenste metode wat inbrekers by skuifdeure en vensters gebruik.
* Belê in ’n noodhulpstel vir hondevergiftiging.
* Verseker dat alle duplikaatsleutels weggesluit is wanneer dit nie gebruik word nie. Moenie sleutels in deure los of onnodige kopieë maak nie.
* Hou motorhuise en tuinskuurders gesluit. Indringers moenie toegang hê tot items wat as wapens of inbraakgereedskap gebruik kan word nie.
* Snoei digte struike en plante naby grensmure en hekke terug om skuilplekke vir booswigte te verminder.
