Vroulike betoger gewond na SAPD met rubberkoeëls losbrand
Die betogers is kwaad omdat hulle vir meer as 3 weke reeds sonder elektrisiteit is, en is nie van plan om vinnig tou op te gooi nie al is daar heelwat SAPD-lede op die toneel.
VANDERBIJLPARK – Betogers wat reeds vir 22 dae sonder elektrisiteit sit, het omstreeks 17:00 verskeie roetes met klippe en boomstompe toegepak, bande gebrand en selfs klippe gegooi.
Hulle is erg ontevrede omdat die meeste CW-woonbuurte en Bophelong se elektrisiteit intussen suksesvol aangeskakel kon word, maar ander CW-woonbuurte nie.
Die SAPD was vinnig op die toneel by die sirkel by Curie-boulevard en McColm-boulevard.
Inwoners in die omliggende gebied het kort daarna ‘n paar skote hoor klap.

Volgens een van die betogers op die toneel het die polisie twee waarskuwingskote in die lug geskiet, en daarna op die betogers geskiet met rubberkoeëls.
Een vrou is in die arm getref. Nooddienswerkers was omstreeks 17:45 op die toneel om haar te behandel.
Daar is nogal ‘n groot aantal SAPD-lede op die toneel, maar dit is duidelik dat die betogers steeds baie omgekrap is.
Mense word aangeraai om die area te vermy.




