VANDERBIJLPARK – Maatskaplike werkers. Seker een van die ondankbaarste beroepe. Hulle is altyd in die spervuur. Oorwerk en onderbetaald.
Sien goed wat ander mense nie van wil weet nie. Probeer om gevegte teen burokrate te wen, gewoonlik met ʼn begroting wat veel te wense oorlaat.
Ek onthou hoe ʼn maatskaplike werker een dag vir my gesê het dat hul party dae moet kies watter van twee verskriklike omstandighede die “beter” een is om kinders te plaas.
Dit breek hul harte, maar aangaan, gaan hul aan en van opgee is daar geen sprake nie.
Op hierdie dag dink ons aan elke maatskaplike werker, maak nie saak of hulle by staat of privaat instansies werk nie. Dankie vir dit wat jul doen. Altyd en onverpoosd. Vir jul harde werk en omgee.
Internasionale Maatskaplikewerkersdag is ‘n geleentheid om erkenning te gee aan die onmisbare rol wat maatskaplike werkers speel in die bevordering, herstel en versterking van gemeenskappe.
Daarom vereer Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met Solidariteit se beroepsnetwerke, maatskaplike werkers as Hoopdraers van hul gemeenskappe.
Die Hoopdraers van 2026 is:
Francois Meyer – Vanderbijlpark
Charnelle Findlay – Margate
Gerda van der Merwe – Modimolle
Wilma Vermeulen Crafford – Volksrust
Louise van Zyl – Rustenburg
Marinei Herselman – Oos-Londen
Tobias Kleinhans-le Roux – Kuilsrivier
