Local newsNewsNews

Harties en Vaal se harte bloei

Bekende Vaaldriehoeker sterf skielik in Harties.

VANDERBIJLPARK – Die gemeenskap van Hartbeespoortdam en Vanderbijlpark rou oor die afsterwe van Gullaume Clouston, ’n man met ’n hart net so groot soos sy liefde vir rugby, sy mense en sy dorp.

Hy is op 9 Maart 2026 onverwags aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was 49 jaar oud.

Gullaume, gebore met ’n stewige stel beginsels en ’n sagte geaardheid, het in 1995 aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer. Sy ma, Sannie, het altyd grappenderwys gesê dat as hy net sy skoolwerk so goed geken het soos sy rugby, sou hy ’n professor gewees het.

Die ontslape Gullaume Clouston met die Curriebeker.

Maar vir Gullaume was dit eenvoudig. Hy het rugby geëet, geslaap en geleef. Veral Blou Bul-rugby, ’n liefde wat hy by sy pa, Graham, geërf het.

Hy was self ’n kranige losskopstut in sy jonger dae en sy passie het nooit vervaag nie. Hy het later in sy lewe as ’n amateurfotograaf graag natuur -en landskapfoto’s geneem.

As Vryheidsfront Plus-raadslid in Hartbeespoortdam het hy sy gemeenskap met eer en oortuiging gedien.

Hy was beginselvas, eerlik en nie bang om vir die regte dinge op te staan nie. Sy betrokkenheid het ’n duidelike en blywende impak op baie mense se lewens gehad.

Hoewel Harties sy hartsplek was, het hy ook ’n groot deel van sy lewe in Vanderbijlpark deurgebring en baie mense gehelp.

Sy sin vir humor, liefde vir braai en die samesyn met vriende het hom die spilpunt van menige kuier gemaak.

Harties se harte bloei vandag vir ’n man wat hulle wêreld opgehelder het.

Hy het jare dapper gestoei met diabetes en hartprobleme, maar nooit toegelaat dat dit sy veggees blus nie. Hy het geleef met oorgawe, gelag met oorvloed en liefgehad met opregtheid.

Hy laat sy vrou Karien en hul dogter Amber agter, vir wie hy ’n rots, ’n beskermheer en ’n onwrikbare bron van liefde was.

Sy afsterwe laat ’n groot leemte in sy familie, sy vriende, sy gemeenskap en by almal wat hom geken het. Sy nalatenskap van lojaliteit, passie en menslikheid sal egter nog lank voortleef.

Rus sag, Gullaume. Jou ligbloubloed het hard geklop en jou hart selfs harder.

*Sy roudiens vind op Donderdag 19 Maart om 11:00 in Hartebeespoortdam plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button