Vaal-boere bekommerd oor bek-en-klouseer-maatreëls
Hoewel die Vaal se boeregemeenskap tydens gister se vergadering hul steun vir die bek-en-klouseer-maatreëls uitgespreek het, heers daar groot kommer oor die praktiese uitvoering daarvan.
VANDERBIJLPARK – Plaaslike boere en rolspelers in die lanbousektor het gister tydens ‘n vergadering by Hersa Afslaers (Lochvaal) hul kommer uitgespreek oor verskeie aspekte oor die impak van bek-en-klouseer op die veesektor.
Tydens die vergadering is dit duidelik gestel dat boere die siekte ernstig opneem en wil saamwerk om die verspreiding daarvan te voorkom.
Volgens kennisgewings van die provinsiale veeartse is daar reeds verskeie gebiede in Gauteng waar uitbrekings bevestig is en waar streng bewegingsbeheer ingestel is.
Dit sluit heelwat areas rondom die Vaal in, waaronder Viljoenskroon, Vredefort, Parys, Deneysville, Sasolburg en Frankfort, waar bek-en-klouseergevalle aangemeld is.
Boere het egter groot kommer uitgespreek oor praktiese uitdagings, onder andere die voorstel dat daar eers tot vyf dae vooraf toestemming verkry moet word voordat vee geskuif of verkoop kan word.
Produsente is bekommerd dat hierdie proses handel en veilings ernstig kan ontwrig.
Daar is ook kommer oor die beperkte aantal staatsveeartse wat beskikbaar is, aangesien dit onrealisties kan wees dat hulle betyds by alle plase sal kan uitkom.
Verder het sommige boere hul onsekerheid uitgespreek oor die voorgestelde inentingsproses en wil hulle meer duidelikheid en vertroue hê oor hoe dit geïmplementeer sal word.
Raadslid Gerda Senekal het ook die vergadering bygewoon. Volgens haar is die belangrikste boodskap uit die vergadering dat boere bereid is om saam te werk, maar dat praktiese oplossings en duidelike kommunikasie noodsaaklik is om die sektor te beskerm.
Die volgende vergadering by Hersa Afslaers is op 30 Maart.

