Chaos en rubberkoeëls in Vanderbijlpark
VANDERBIJLPARK - Gatvol verby! Betogers wat reeds meer as drie weke sonder elektrisiteit sit, het die week oorgegaan tot aksie.
Die eerste betogers het Maandag omstreeks 17:00 verskeie roetes met klippe en boomstompe in CW-areas versper. Daar is ook motorbande gebrand en klippe gegooi.
Dinsdag omstreeks 16:30 het inwoners van veral CW-5 weer strate begin afsper en motorbande aan die brand gesteek. Dit het geëskaleer en teen 20:00 was daar meer vure en digte rook te sien.
Die SAPD het strate afgesper om motorsite weg te hou van dié areas.
Al die woede pruit uit groeiende ontevredenheid oor die huidige kragsituasie wat deur die skade aan die Dorp-substasie aangerig is na ‘n brand daar ontstaan het.
Eskom- en ELM-werkers het onverpoos gewerk om kragtoevoer en ander bygaande probleme uit die weg te ruim, maar al die probleme is steeds nie opgelos nie.
Terwyl kragtoevoer na die meeste dele van Bophelong en sekere CW-woonbuurte reeds herstel is, bly ander gebiede egter steeds in die donker.

Lerato Mofokeng, ’n inwoner van die gebied, het aan Sifiso Jimta, MooiVaal-joernalis, gesê: “Ons geld raak op omdat ons daagliks kos moet koop. Sommige mense het nie geld om gas, kerse of paraffien te koop nie. As ons nie betoog nie, gaan die munisipaliteit voortgaan om voete te sleep.”
Tydens Maandag se betogings is ‘n vrou in haar arm gewond, na die SAPD eers twee waarskuwingskote afgevuur het, en daarna op die betogers geskiet het met rubberkoeëls.
ELM-woordvoerder, Makhosonke Sangweni, het gesê die munisipaliteit doen tans noodherstelwerk aan die Dorp-substasie en het vooraf gewaarsku dat die elektrisiteitstoevoor Dinsdag tussen 13:00 en 13:00 afgeskakel sou word vir herstelstelwerk.
Daar is steeds nie antwoorde of aanduiding of die kragtoevoer vandag herstel sal word nie.
Motoriste word dus gewaarsku om teen vanaand se kant versigtig te wees, aangesien daar dan weer betogings te wagte kan wees.
