Ken jou regte by die polisiestasie
In die lig van toenemende klagtes oor swak dienslewering by polisiestasies, is dit belangrik dat mense bewus is van hul regte.

Volgens Nasionale Instruksie 3 van 2011 regulasie is die weiering deur SAPD-lede om ‘n strafsaak te registreer ‘n ernstige tugoortreding.
Wat die wet voorskryf:
Geen jurisdiksie-beperking: ‘n Polisiebeampte mag jou nooit na ‘n ander stasie verwys nie, selfs al het die misdaad elders plaasgevind. Die stasie waar jy die klagte indien, moet die saak open en dit daarna na die betrokke area oordra.
Identifikasie van verdagtes: Jy hoef nie die naam of identiteit van ‘n verdagte te ken om ‘n saak te open nie.
Erns van die misdaad: Dit is nie die beampte aan diens se diskresie om te besluit of ‘n saak “ernstig genoeg” is nie; as ‘n misdaad gepleeg is, moet ‘n verklaring afgeneem word.
Beëdigde verklaring: Die beampte is verplig om jou te ondervra en ‘n volledige beëdigde verklaring af te neem.
Dissiplinêre Stappe: Stasie- en distriksbevelvoerders is verantwoordelik om toe te sien dat lede wat hierdie instruksie oortree aan dissiplinêre stappe onderwerp word. Indien jy weggewys word, dring daarop aan om met die skofbevelvoerder of die stasiebevelvoerder te praat.
Indien jy steeds hulp geweier word, kontak die SAPD Nasionale Klagtesentrum:
Tolvry: 0800 333 177 of 0860 264 487
