50kg ligter in 12 maande
Om jou hele lewenswyse te verander vat 'n groot kopskuif en deursettingsvermoë maar Micaela het dit reggekry.
VANDERBIJLPARK – “Ek het besef ek moet my boude in ‘n trourok kry,” beduie Micaela Benn. Dit was ‘n jaar gelede. Die troue is volgende maand.
“Ek het op daardie stadium die skaal op 138 kg getrek en besef ek sal dringend en drasties verandering moet aanbring.”

Haar eerste stap in die lang pad na ‘n gesonder lewe en kleiner klere, was om by haar dokter om hulp aan te klop. Omdat sy so erg oorgewig was, het hy vir haar ‘n weeklikse inspuiting voorgeskryf, nadat sy eers vir bloedtoetse moes gaan.
“Ek het besef ek kan nie net op die inspuiting staatmaak nie en het derhalwe my dieet verander. Meer proteïne en groente en totsiens gesê vir suiker,” vertel sy.
Micaela het ook besef sy sal moet oefen, maar sê sy het eers nadat sy 10kg verloor het, genoeg moed gehad om by ‘n gimnasium in te stap. Gelukkig het sy daar vir Jessica raakgeloop.
Hulle was saam op skool, alhoewel nie in dieselfde jaargroep nie. Die twee het mekaar se gym junkies geword, soos sy dit stel.

“Ek was bang vir die masjiene. Daai goed lyk sommer scary, maar sy het my bekendgestel aan weight training. Gekombineer met die 30 min kardio op die f iets, werk dit. Maar, sjoe ek moes eers uit my comfort zone kom,” beduie sy.
Hulle oefen ten minste drie tot vyf keer per week, afhangende van werkskedules. Die hele proses was ‘n kopskuif wat sy moes maak. Een waarmee sy nog soms sukkel.
Onlangs het sy voor en tans foto’s van haarself op haar Facebook geplaas. “Ek het gewonder of ek dit moes doen, of mens regtig so groot verskil kan sien,” skud sy kop.
Haar vasberadenheid en deursettingsvermoë het intussen haar familie geïnspireer om ook gewig te verloor. Van haar pa tot by haar aanstaande skoonma kyk nou wat hul eet met goeie gevolge.
Selfs haar vierjarige seuntjie, Kian, het al die verskil agtergekom, want Micaela het meer energie en sy kan nou baie meer dinge saam met hom doen.
“Hy het my nou die dag gesê hy hou meer van die maer mamma.” Micaela wil nog so vyf na 10kg verloor en dan gaan sy haar gewig daar hou.
“Ek wil ook nie permanent lyk soos iemand wat ‘n pizza kort nie,” lag sy. En haar droom trourok? “Man, ons het al mates geneem, maar die ontwerper wag nog ‘n bietjie, ingeval ek nog gewig verloor. Dit sal klaar wees 18 April,” verseker sy my.
