Local newsNews

‘Almal voel soos my oumas en oupas’

Hy is 'n gebore maatskaplike werker wat sy mense se belange op die hart dra. Ontmoet Francois Meyer...

VANDERBIJLPARK – Huis Siësta se bestuurder en maatskaplike werker Francois Meyer is oral te vinde behalwe in sy kantoor.

As hy nie besig is om tannies in rolstoele na die kapel te stoot vir Bybelstudie nie, dan is hy aan’t ronddraf om seker te maak almal is gelukkig en tevrede.

Sy werk lê hom na aan die hart. Hy is gewoonlik voor 06:00 al daar en werk maklik 12 ure per dag. Francois hou nie daarvan om verlof te neem nie.

Francois op vakansie? Nie maklik nie. Die mooi agtergrond is deel van die nuwe demense-eenheid. Foto: Gerda Bruinette

“Ek geniet my werk. Hierdie mense voel almal soos my oumas en oupas, hoekom sal ek verlof wil neem?”

Hy ken elkeen van hierdie oumas en oupas van hom en soos hy deur die sentrum loop, kyk hy voortdurend rond waar ‘n tannie dalk hulp benodig om te gaan sit of sukkel om met ‘n rolstoel by ‘n deur in te kom.

Elkeen behandel hy met respek, deernis en ‘n hart vol liefde. Hy is duidelik gebore om ‘n maatskaplike werker te wees. Sy harde werk en die manier hoe hy sy werk doen, gaan nie ongesiens verby nie.

Op 17 Maart is internasionale Maatskaplike Werkersdag gevier en Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met Solidariteit se beroepsnetwerke, het sewe Hoopdraers vir 2026 aangewys.

Francois is een van die sewe en ook die enigste een van Gauteng. Almal is baie trots op hom, maar hy trek net skouers op.

Om sy alles te gee vir die werk waarvoor hy so ‘n groot passie het, is vir hom die natuurlikste ding op aarde.

Francois is oorspronklik van Heilbron waar hy ook skoolgegaan het. Na skool het hy maatskaplike werk deur UNISA geswot en as student reeds as hulpwerker by die eertydse Kerklike Maatskaplike Dienste (KMD) gewerk.

Daarna het hy vir 12 jaar by Kinderwelsyn in Vanderbijlpark diens gedoen alvorens hy hom by die Siëstaspan aangesluit het.

Hoekom het hy oorspronklik besluit om maatskaplike werk te gaan studeer? Sy antwoord is eenvoudig. “Ek is baie lief vir mense.”

Wanneer hy nie by die werk is nie, geniet hy dit om te gaan stap. Dan het hy homself ook geleer hoe om Koffie Likeur te stook van regte koffiebone. “Ek doen dit sommer net vir die pret,” beduie hy.

Sy familie is vir hom belangrik. Sy ouers bly by hom en dan het hy ‘n ouer suster in Johannesburg.

Francois is nie net ‘n mense mens nie, hy het ook ‘n baie sagte plek vir diere. Sy Staffie/Jack Russell-kruising, Denver is al 16 jaar oud, terwyl Zelda, die kat, vier is en hulle is beslis deel van die huisgesin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button