’n Nikon-man met ’n oog vir die natuur
VANDERBIJLPARK - Met sy kamera in die hand en sy oog op die perfekte oomblik, tower die 43-jarige Wynand Potgieter week na week asemrowende foto’s op.
Dié gebore en getoë Vanderbijlparker (’n trotse oud-leerling van LS Emfulenipark en HS Driehoek), skerts dat hy waarskynlik hier sal doodgaan ook.
Hoewel hy bedags as ’n CNC-programmeerder werk, het sy reis met fotografie sowat sewe jaar gelede as ’n eenvoudige stokperdjie begin.
“Dit was aanvanklik net ’n rede om naweke uit die huis te kom en nuwe plekke te sien,” vertel Wynand. “Mens leef net een keer en ek glo jy moet doen wat jy geniet, al gaan sit jy net vir ’n paar uur in die natuur by die EcoPark.”

Sy fotografiepret het intussen in ’n indrukwekkende portefeulje ontwikkel. Sy talent is reeds raakgesien deur ’n kunsgalery wat sy werk wil bemark en verkoop, en hy het al verskeie foto’s privaat verkoop. Tog bly dit vir hom ’n passieprojek.
Hy is sedert 2023 ‘n lid van die Elsje’s Choice on Photos Facebookgroep, waar lede van hul werk deel en van die top foto’s gekies word om in Vaalweekblad gepubliseer word. Week na week behoort van die top foto’s van die week aan Wynand.
Hy het ’n besondere voorliefde vir wildlewe, en danksy sy broer se invloed, het hy onlangs ook die kuns van voëlfotografie bemeester. Sy “wenresep” bestaan uit sy getroue Nikon D7200 of D850, gekoppel aan sy Sigma 150-600mm of 70-200mm lense, en natuurlik daardie fyn aanvoeling agter die lens.
Wynand se lewensuitkyk is gevorm deur sy eie stryd as ’n kanker-oorlewende. Hy is geskei (en geniet dit, sê hy) en hoewel hy nie self kinders het nie, is sy broer se twee dogters sy oogappels en gereelde modelle.
Sy boodskap aan ander is eenvoudig, maar kragtig: “Kry iets waarvan jy hou, iets wat jou kalm maak, en doen dit. Dit maak nie saak of jy die beste daarin is nie; doen wat jou gelukkig maak. Moenie uitstel nie, lewe asof dit jou laaste dag is. Ek het dit op die harde manier geleer.”
Hier is van Wynand se asemrowende foto’s.




