Rocking the Vaal: ‘n Fees vir die gemeenskap
Wat begin het as ’n eenvoudige gemeenskapsprojek, het oor die jare ontwikkel tot een van die Vaaldriehoek se bekendste feeste.
VANDERBIJLPARK – Rocking the Vaal word georganiseer deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC), in samewerking met Emerald Resort & Casino, wat as gasheer van die geleentheid optree.
Die fees vind jaarliks by Emerald Resort & Casino plaas, en sal vanjaar op Saterdag, 11 April daar gehou word met van die land se grootste kunstenaars op een verhoog.
Die begin van hierdie reis kan teruggeneem word na ’n Guinness Wêreldrekordpoging vir die langste gehekelde kombers, ’n projek wat deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC) geïnisieer is.
Inwoners van regoor die Vaal het blokkies gehekel wat later saamgevoeg is tot ’n rekordbrekende kombers – ’n simboliese projek wat gewys het hoe kragtig gemeenskapsamewerking kan wees.
Daardie sukses het die saad geplant vir iets groter. Met tyd het die idee ontstaan om gemeenskapsdeelname, musiek en kos saam te bring in een groot gebeurtenis. Só het Rocking the Vaal begin groei tot ’n fees waar mense nie net kom luister na musiek nie, maar self deel word van die ervaring.
Hierdie projekte het duisende mense laat deelneem en die Vaal-gemeenskap internasionaal onder die kollig geplaas.

Kunstenaars
Intussen het die fees ook gegroei tot ’n belangrike musiekgeleentheid waar van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars op een verhoog optree.
Kunstenaars soos Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Heuwels Fantasties en Refentse trek jaarliks groot skares na die Vaal.
Met Rocking the Vaal 2026 bou die organiseerders weer voort op hierdie tradisie van deelname en samewerking.
Vanjaar beplan hulle twee nuwe Guinness Wêreldrekordpogings – ’n poging om die meeste pannekoek nog ooit te maak, asook ’n indrukwekkende 3 000 kg pot Chilli Con Carne.
* Maak seker jy kry jou kaartjies en hou die sosiale media-platforms dop om te sien hoe jy deel kan word van hierdie unieke ervaring. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa.
Indien jy wil deelneem of as borg betrokke wil raak, stuur ’n e-pos aan Sandy by admin@gtcoc.org.za.
(Inligting: The Marketing Zoo)
