Local newsNewsNews

Vaalrivier: Rand Water wen stryd teen indringerplante

Indringerplante op die Vaalrivier was in 2024 op sy ergste met sowat 32% (414 hektaar) van die Vaalrivier-Barrage wat met hierdie plante bedek was.

VANDERBIJLPARK – Klimaatsverandering en rioolbesoedeling het die afgelope jare ’n perfekte teelaarde geskep vir indringerplante soos waterslaai en waterhiasinte in die Vaalrivier.

Vandag lyk die prentjie dramaties anders danksy Rand Water se nuwe “geïntegreerde bestuurstrategie”.

Hoe die Vaalrivier voor Club Milos in Vanderbijlpark gelyk het in 2024.
Hoe die Vaalrivier voor Club Milos in Vanderbijlpark nou lyk. Foto’s: Verskaf deur Rand Water

Rand Water het in ‘n mediaverklaring uiteengesit hoe dit vermag is:

Fisiese verwydering: Meganiese gereedskap en handearbeid lig die plante uit die water.

Gordyne en “Chicanes”: Drywende versperrings keer dat plante stroomaf dryf en isoleer hulle vir makliker verwydering.

Chemiese beheer: Die doelgerigte gebruik van goedgekeurde onkruiddoders (soos Kilo Max).

Biologiese beheer: Die vrystelling van natuurlike vyande, soos snuitkewers, wat die plante vreet.

Hierdie strategie het resultate opgelewer en die vordering is indrukwekkend.

Rand Water voer verder aan dat teen 11 Maart vanjaar, die besmetting afgeneem het tot slegs 0,46 hektaar (0,03%). Dit is ’n enorme verbetering vergeleke met die 414 hektaar van twee jaar gelede.

Sedert Oktober 2025 het Rand Water reeds 3 855 m³ plante fisies verwyder, by 940 000 biologiese agente (kewers) vrygestel en 35 hektaar met onkruiddoder behandel.

Daar is hard gewerk om die indringerplante fisies uti die rivier te verwyder.

Gemeenskap speel sleutelrol

Die sukses berus nie net op tegnologie nie, maar op samewerking. Plaaslike inwoners het op hul eie koste drie stasies opgerig om biologiese agente te kweek.

Hierdie vennootskap tussen die staat (Departement van Water en Sanitasie) en die private sektor dui daarop dat almal verantwoordelikheid neem vir die Vaalrivier se herstel en gesondheid.

Kenners waarsku egter dat die stryd lank is. Die sade van hierdie plante kan tot 20 jaar lank in die modder oorleef. Besoedeling bly ook ’n groot bron van voeding vir die plante.

Rand Water het beklemtoon dat deurlopende monitering en vinnige optrede noodsaaklik is om ’n nuwe uitbraak van indringerplante te voorkom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button