Local newsNewsNews

Vereeniging DBV verkeer in nood

Die DBV reik uit na die gemeenskap omdat hulle dringend ondersteuning nodig het om voort te gaan met hul diens.

VEREENIGING – “Net wanneer ons dink dinge kan nie erger word nie, kom ons by ons kantore aan net om te vind dat ons hoofhek oopgebreek en ons hekmotor gesteel is,” sê Marlien de Klerk, bestuurder van die Vereeniging/Vanderbijlpark DBV.

Die skade wat agtergelaat is, is hartverskeurend. Wat eens ‘n veilige ingang was, is vernietig om die hekmotor te steel.

“Dit gaan nie net oor skade aan eiendom nie. Ons diere, sowel as ons personeel, is nou in gevaar omdat ons perseel nie meer behoorlik beveilig is nie,” sê De Klerk.

Die plaaslike DBV is ‘n baken van hoop vir talle diere. Die DBV rek elke sent, aangesien hulle op die goedhartigheid van die gemeenskap staatmaak om hul deure oop te hou.

Hulle het nie net fondse nodig om die hek te herstel nie, maar moet ook die motor vervang, ‘n onbeplande uitgawe wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie.

Die hek by die Vereeniging DBV wat oopgebreek is om die hekmotor te steel. Foto: DBV

“Dit is met ‘n swaar hart en ‘n dringende pleidooi dat ons uitreik vir hulp. Sonder regerings- of munisipale steun berus ons missie om diere te versorg en te beskerm geheel en al op die welwillendheid en vrygewigheid van ons gemeenskap,” verduidelik De Klerk.

“Ons staan voor ‘n kritieke finansiële uitdaging. Sonder u ondersteuning word ons vermoë om noodsaaklike veterinêre sorg aan diere in nood te verskaf, ernstig bedreig.”

Onthou asseblief dat elke bydrae, ongeag die grootte, ‘n lewenslyn is. U skenking kan ‘n reuseverskil maak en verseker dat die DBV kan voortgaan om diere in haglike omstandighede te bereik en te red. Maak asseblief u hart oop en help hulle.

Hoe om te help

Gemeenskapslede of organisasies kan per elektroniese fondeoordrag (EFT) skenk aan die DBV-rekening:
Rekeningnaam: Vereeniging SPCA
Rekeningtipe: ABSA Spaarrekening
Rekeningnommer: 9258578888
Tak: Vereeniging
Takkode: 632005
Verwysing: Gate & U Naam en Van

Erkenning vir skenkers

“Om ons opregte dankbaarheid te toon, sal ons graag u maatskappy se besonderhede en logo op ons Facebook-blad plaas, wat ‘n bereik van 27 000 volgelinge het,” sê Marlien.

Alle skenkings is belastingaftrekbaar. Vir ‘n belastingkwitansie, e-pos asseblief u versoek tesame met die bewys van betaling na info@spca-ver.co.za.

“Ons waardeer u goedhartigheid opreg en hoop op u voortgesette ondersteuning in die jare wat kom. Ons sal voortgaan om te praat vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie. Saam kan ons ‘n verskil maak in alle dierewelsyn,” sluit De Klerk af.

Kontak die Vereeniging/Vanderbijlpark DBV by: 016 422 1505 of E-pos: info@spca-ver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button