Steeds geen lig aan einde van tonnel
Daar is eintlik nie meer woorde om te beskryf hoe kwaad en moedeloos CW-inwoners in Vanderbijlpark is nie.
VANDERBIJLPARK – Dit is nou meer as ‘n maand dat sekere inwoners geen elektrisiteit het nie. In sekere woonbuurte was die krag herstel, maar dit het net twee dae geneem voordat daar wéér fout gegaan het.
Nou is die meerderheid inwoners van die CW-areas weer in die donker.
Verlede week het van die inwoners tot betoging oorgegaan. Klippe en boomstompe was in paaie gepak en bande is aan die brand gesteek.
Dit wil egter nou voorkom of inwoners so moedeloos is dat hul veggees geblus is.
Die Fout
Dinsdag het ELM se Departement van Kommunikasie ‘n verklaring uitgereik waarin hulle die situasie aan die inwoners probeer verduidelik het.
Daarin is aangevoer dat hul pogings om kragtoevoer te herstel, verskerp het. Die tegniese spanne het begin het met die verwydering van die foutiewe paneel vir deeglike toetsing van die monoblok-stroomgeleier (busbar).
Indien daar gevind sou word dat die monoblok heeltemal beskadig is, sal die span dit met ‘n nuwe een vervang.

Sodra die vervangings-monoblok suksesvol geïnstalleer is, sou tegnici begin met die toetsing van die paneel en die monoblok. Hierdie is ‘n noodsaaklike stap om die veiligheid en operasionele toerusting te verseker.
As alles volgens plan verloop, sou tegnici begin om die kragtoevoer geleidelik aan te skakel om oorbelading van toerusting en die onmiddellike uitskop van kringe te voorkom.
Ongelukkig het alles nie volgens plan verloop nie.
Die kragtoevoer na sommige van die geaffekteerde gebiede kon wel herstel word, terwyl ander gebiede sonder krag gebly het weens ‘n elektriese “tracking”-fout.
Ten einde voort te gaan met die herstel van dié fout en om toevoer na alle geaffekteerde verbruikers te bewerkstellig, moes die Dorp-substasie vandag (Woensdag) vanaf 09:30 afgeskakel word.
Die munisipaliteit het gevra dat inwoners geduldig moet wees, en het ook om verskoning gevra vir die ongerief.
