Sasolburg-strate gaan Saterdag besig wees
Die Sasol Sasolburg Marathon sal sowat 3 000 nasionale en internasionale atlete lok.
SASOLBURG – Die 31ste Sasol Sasolburg Marathon vind hierdie Saterdag plaas, en inwoners moet kennis neem dat die strate besig gaan wees.
Sasol vra alle padgebruikers om asseblief bewus te wees van die wedloop wat deur die strate van Sasolburg gaan beweeg en om saam te werk met die baanbeamptes en Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit se verkeersbeamptes.
Sasol bedank die Sasolburg-gemeenskap, die atlete en sy vennote (die Sasolburg Atletiekklub en Atletiek Vrystaat) wat hierdie geleentheid moontlik maak.
“Sasol is bevoorreg om hierdie gewilde marathon reeds vir meer as drie dekades te borg. Die Sasol Sasolburg Marathon bring elite- en amateurhardlopers van Suid-Afrika en buurlande bymekaar, en gebruik die trefkrag van sport om ‘n gees van eenheid en kompetisie binne ons plaaslike gemeenskap te bevorder,” sê Ntokozo Gcabashe, Senior Visepresident by Sasol se Sasolburg- en Natref-bedrywighede.
Die marathon dien as ‘n kwalifiserende wedloop vir die Comrades.
Roete
Die roete begin by die DP de Villiers-stadion in Sasolburg en gaan verby sleutelmerkpunte, insluitend die Sasol One-perseel en die Hoëveld-tuin.
Daar sal elke drie kilometer waterpunte wees wat deur Sasol-werknemers en plaaslike besighede beman word.
Wedlooptye
42,2 km en 21,1 km: Begin om 06:00
10 km: Begin om 06:155 km
pretdraf (5 km): Begin om 06:30
Prysuitdeling
Die prysuitdeling vind om 10:00 binne die stadion plaas.
Die mans- en vrouewenners in die Ope-kategorie van die marathon (42,2 km) sal elk R3 000 ontvang. Eerstepryse vir die halfmarathon (21,1 km) is R2 000 en R1 000 vir die 10 km-wedloop.
Pryse sal ook aan wenners in verskeie ouderdomskategorieë toegeken word.
Medaljes
Alle deelnemers wat klaarmaak binne die kategorieë waarvoor hulle ingeskryf het, sal medaljes ontvang.
Vir meer inligting en die wedloopreëls, kontak asseblief die wedlooporganiseerder by 073 339 6809.
