Dankies en dreigemente te midde kragkrisis
VANDERBIJLPARK - Daar is eintlik nie meer woorde om te beskryf hoe kwaad en moedeloos sommige inwoners is nie.
Inwoners in sekere woonbuurte, meestal die CW-areas, is reeds vir meer as ‘n maand sonder elektrisiteit.
In sekere woonbuurte is die krag verlede week herstel, maar dit het net twee dae geneem voordat daar wéér fout gegaan het. ‘n Groot aantal inwoners van die CW-areas is dus steeds in die donker.
Daar is ook geen terugvoer of sekerheid oor wanneer die probleem opgelos gaan word nie.
Dreigemente
Maar ongelukkig het die afgelope maand se gebeure nie net die druk op ELM se infrastruktuur blootgelê nie, maar ook die karakter van sommige inwoners wat lae hou uitgedeel het op sosiale media.
Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus, wat deurlopend die gemeenskap van opdaterings voorsien het, is onderwerp aan persoonlike aanvalle en selfs dreigemente van fisiese geweld.
‘n Individu wat geen geheim daarvan gemaak het om haar identiteit weg te steek nie, het voortdurend kommentaar gelewer op sosiale groepe. Sy is deur ander lede op die groepe aangespreek oor haar gedrag, maar daar was net geen einde nie.
Hanna Lourens het onder andere te kenne gegee dat sy Gerda fisies sou aanrand.
Maar mens moet maar versigtig wees met wat jy op sosiale media uitlaat.
Senekal het hierdie situasie direk aangespreek.
“Toe ons persoonlik met Hanna Lourens en haar man gepraat het, was hulle duidelik geskok oor die erns van die situasie. Geen fisiese konfrontasie het plaasgevind nie, en hulle het opreg verskoning gevra vir hul optrede,” vertel Senekal.
Tog bly dit onaanvaarbaar! Geweld en dreigemente, hetsy aanlyn of van aangesig tot aangesig, het geen plek in ons gemeenskap nie.

Erkenning
“Wat egter vir my uitgestaan het tydens hierdie krisis, is die ongelooflike toewyding van ons elektriese personeel. Met nuwe waardering het ek gesien hoe hulle onder uiterste druk werk.
“Soms deurnag, sonder om moed op te gee, ten spyte daarvan dat hulle self deur kragonderbrekings geraak word. Ongelukkig sien baie mense nie hierdie opoffering raak nie,” sê Senekal.

Verder het die gemeenskap self gewys wat dit beteken om saam te staan
Inwoners het hul eie geld gebruik om materiaal aan te koop waar daar tekorte was.
Vrywilligers het hul tyd opgeoffer om patrollies te doen tydens kabeldiefstal.
Individue, soos Fanie de Jongh, het onmiddellik gereageer en hulp gebied sonder huiwering.
Die VF Plus het ondersteuning gebied met kos en verversings vir werkers en vrywilligers.
Hierdie is die ware gees van hoe ‘n gemeenskap in moeilike tye moet saamstaan.
“Laat hierdie krisis ’n herinnering wees: ons grootste krag lê nie in kritiek nie, maar in hoe ons saamstaan wanneer dit saak maak,” sluit Senekal af.
