Rocking the Vaal: Groter, beter en vol geur
Merk jou kalender vir Saterdag 11 April. Die Vaaldriehoek se grootste makietie, Rocking the Vaal, keer terug na die Emerald Resort & Casino.
VANDERBIJLPARK – Dit is nie sommer net nog ’n fees nie; dit is ’n dag waar duisende mense saamkom om musiek, kos en ware gemeenskapsgees te vier.
Vanjaar mik die organiseerders na nog twee amptelike Guinness-wêreldrekords: ’n Poging om die meeste pannekoeke nóg op een slag te bak, en ’n massiewe 3 000kg Chilli Con Carne wat die hele gemeenskap aan die kook gaan hê.
Behalwe vir die geurige pret waarin die gemeenskap kan deel, is daar ook ster-belaaide verhoogoptredes waarna feesgangers kan uitsien.

Die line-up beloof om die stof te laat staan met optredes deur Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Droomsindroom, Die Heuwels Fantasties, Refentse en vele ander!
Wat Rocking the Vaal uniek maak, is dat jy nie net kom kyk nie – jy neem deel. Die energie van die fees lê in die mense.
Of jy nou saam sing onder die Vaal-son of help om ’n wêreldrekord te breek, jy is die hartklop van die dag.
Kaartjies is reeds beskikbaar by Tixsa.
Indien jy as borg betrokke wil raak, of aktief gaan deelneem aan die dag se sukses, stuur ’n e-pos aan Sandy by admin@gtcoc.org.za.
* Hierdie spoggeleentheid word met trots aangebied deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC) in samewerking met Emerald Resort & Casino.
