NewsNews

Botsings dalk minder, maar paaie steeds gevaarlik

Miljoene Suid-Afrikaners sal oor die Paasnaweek die nasionale paaie aandurf.

Hoewel verhoogde verkeersvolumes, moegheid en langafstandbestuur tradisioneel die risikoprofiel verhoog, is daar rede vir optimisme.

Daling in padsterftes

Die Departement van Vervoer se 2025-veldtog het ongekende sukses behaal: padsterftes het hul laagste vlak in drie jaar bereik.

Botsings het dramaties gedaal vanaf 209 in 2024 na slegs 141 in 2025, ’n indrukwekkende afname van 32,5%. Hierdie verbetering is grootliks te danke aan verskerpte wetstoepassing.

Tydens die vorige siklus is:

44 505 verkeersboetes uitgereik;

941 bestuurders weens dronkbestuur in hegtenis geneem;

89 jaagduiwels vasgetrek vir oormatige spoed;

Meer as 2 000 onpadwaardige voertuie van die pad verwyder.

Marius Kemp, hoof van persoonlike lyn-onderskrywing by Santam, beskou hierdie statistieke as ’n bewys dat doelgerigte ingrypings ’n werklike impak maak.

“Dit is verblydend om die afname in tragedies te sien, maar ons moet onthou dat Paasfees steeds een van die gevaarlikste tye op ons paaie bly.

’n Veilige vakansie begin lank voor jy ry, met deeglike voorbereiding en ’n gesindheid van verantwoordelike bestuur,” sê Kemp.

Gevare by die huis

Terwyl motoriste op padveiligheid fokus, waarsku Kemp dat die risiko nie by die teerpad ophou nie. Huisbraak bly die mees algemene misdaad wat Suid-Afrikaanse huishoudings tref.

Gedurende die 2024/25-tydperk is nagenoeg 1,5 miljoen voorvalle van huisbraak aangemeld, wat beteken dat 5,7% van alle huishoudings in die land geteiken is.

“Terwyl jy weg is, is jou onbewoonde huis ’n sagte teiken. Dit is noodsaaklik dat vakansiegangers hul eiendomme deeglik beveilig voordat hulle die pad aandurf,” sluit Kemp af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button