“Gauteng, Suid-Afrika se ekonomiese hartland, is besig om te verstik in ’n gevaarlike kombinasie van lug-, water- en omgewingsbesoedeling”.
Jaco Mulder, VF Plus- LPW en voorsitter van die Gautengse portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, het in ‘n mediaverklaring beklemtoon dat die huidige situasie prutpot van ekologiese verval is wat dringende ingryping vereis.
Volgens die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake is dit veroorsaak weens onaanvaarbare hoë vlakke van waterstofsulfied wat veral Ekurhuleni en Johannesburg teister.
Volgens Mulder se verklaring is die reuk waarskynlik afkomstig van steenkoolvergassingsprosesse in Mpumalanga.
“Hierdie besoedeling hou ernstige gesondheidsrisiko’s in en oorskry reeds die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevole drempels”.
Riviere en grondwater
Mulder voer verder aan dat Gauteng se riviere en grondwater terselfdertyd genadeloos besoedel word weens vervalle infrastruktuur en wanfunksionele munisipaliteite.
“Watersuiweringsaanlegte pomp daagliks rou of swak behandelde riool in waterstelsels. Die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg in die Tshwane-metro het tot ’n tragedie gelei waar meer as 40 mense in Hammanskraal hul lewe verloor het, terwyl boere sonder drinkbare grondwater sit.
“Die Percy Stewart-rioolsuiweringsaanleg besoedel die Krokodilrivier en Hartbeespoortdam, en Emfuleni stort steeds rou riool in die Vaalrivier,” sê hy.
Daarby kom swak bestuur van vullisstortingsterreine wat die omgewingskrisis vererger. Hierdie voorbeelde is slegs die punt van die ysberg van ’n veel groter bestuurskrisis.
Die VF Plus-geleide portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het reeds munisipaliteite voor die komitee geroep om rekenskap te gee.
“As volgende stap word ’n dringende spitsberaad in die tweede kwartaal van 2026 belê om die eskalerende krisis direk aan te spreek. Alle rolspelers, van plaaslike owerhede en departemente tot boere, sakelui en omgewingsorganisasies, sal betrek word.”
“In ’n provinsie waar meer as ’n kwart van Suid-Afrikaners woon en werk, kan hierdie krisis eenvoudig nie langer geïgnoreer word nie.
“Die skade is reeds enorm en die venster vir optrede raak al kleiner. Daar is nie meer tyd oor vir verskonings en halfhartige pogings om die situasie te beredder nie.” sluit Mulder af.
