SASOLBURG – Die storie van Flip, die jong volstruis het nie ‘n goeie begin nie. Die oggend was hy deel van sy medevolstruise in die skuiling en die middag toe sy eienaars by die huis kom, kon hy nie opstaan nie.
Hulle het dadelik begin om plekke te skakel vir hulp en gelukkig by Dr. Letitia Swartz van Sasolburg Veearts uitgekom. Sy is bekend daarvoor dat sy alle diere, selfs wilde diere, met groot deernis en passie behandel.

Die volstruis is deur die personeel Flip gedoop en is dadelik geneem vir X-strale. Daar is gevind dat die ligamente in sy regter kniegewrig geskeur is, asook die spiere in sy regter heupgewrig.
Die volstruis het ‘n ronde gat in sy voet en sy regter vlerkie is gebreek. Letitia sê hulle vermoed iemand wou die voël vang en het sy voet probeer vaspen in die grond. Hulle moes hom ook aan die been en aan sy vlerk gegryp het.
Flip se wonde is gespoel en skoongemaak. Hy is toegerus met ‘n voetstut sodat hy makliker kon regop kom en hulle het hom in ‘n sling gesit. Die skade is groot en Flip se pad na herstel gaan lank wees.
“Ons het binne drie dae gesien, Flip wil beweeg. Hy wil lewe. Ek sê altyd waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg,” vertel Letitia. Twee dae later het Flip sy eerste wankelrige treë gegee.
Hy is nog op sterk antibiotika om infeksie in die wonde te keer, asook pyn medikasie. “Ek weet nie of hy volkome sal herstel nie. Solank hy net ‘n goeie kwaliteit lewe kan hê.
“Vir sy eienaars is hy ‘n troeteldier en ek dink dit sal beter met hom gaan as hy weer by die huis is en omring is deur sy maatjies,” sê Letitia.
Intussen het al die personeel van die praktyk lief geraak vir Flip. Hy steel nie net harte nie. Letitia het vinnig geleer om nie blink goed in haar hare te hê wanneer sy met hom werk nie. Hy geniet dit om alles uit haar hare te pik.
Flip behoort die week nog huis toe te gaan waar hy ondersteunende behandeling sal ontvang. Sy versorgers by Sasolburg Veearts sê hulle was bevoorreg om die volstruisie te kon help en hulle sien uit daarna om te sien hoe hy oor die langtermyn gaan herstel
