NewsNews

Riool-nagmerrie in CE2

’n Riooldrein wat reeds vir meer as 'n jaar buite werking is, het inwoners se lewenskwaliteit tot breekpunt gedryf.

VANDERBIJLPARK – Vir die Edwards-gesin van Bramantestraat in CE2 het die afgelope jaar in ’n uitgerekte stryd teen stank en frustrasie ontaard.

“Dit het nou só erg geword dat ons skaars ons toilette kan gebruik. Die oomblik as jy die toilet spoel, stoot die riool boontoe uit,” kla Vicky Edwards.

Die oorsaak van die probleem is glo ’n ondergrondse rioolpyp wat in die buurman se erf meegegee het.

Omdat die hooflyn deur albei eiendomme loop, kan die Edwards se stelsel nie funksioneer voordat die pyp by die bure herstel is nie.

Weens die gebreekte rioolpyp het daar reeds ‘n sinkgat in die bure se erf ontstaan. Foto: Verskaf

Volgens Vicky is die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) reeds langer as ’n jaar lank bewus van die situasie, maar word daar bloot nie aan die werk gekom nie.

Die impak op die gesin se persoonlike lewe is groot. Vicky, wat die versorger vir haar bejaarde ma is, moes haar ma verlede week tydelik na haar suster toe stuur omdat die higiëniese toestande by die huis onhoudbaar geword het.

Vicky rapporteer die probleem glo daagliks, maar die terugvoer van amptenare bly vaag. In ’n onlangse boodskap aan haar is daar erken dat ’n pyp in die aangrensende erf ineengestort het.

Hoewel Rand Water glo onlangs op die perseel was, wag plaaslike amptenare steeds op “goedkeuring van seniors” voordat enige herstelwerk kan begin.

Intussen sit die gesin met die hande in die hare terwyl die riool voortstroom.

Indien enige iemand of ’n instansie in ’n posisie is om vir Vicky met hierdie voortslepende krisis by te staan, sal dit hoog op prys gestel word. Vicky kan gekontak word by 079 582 0672.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button