SASOLBURG – Die hekke het reeds vroegmiddag geopen, hoewel die byeenkoms eintlik ‘n aandreeks was.
Die eerste wedren het om 16:30 begin met die heel kleinste deelnemers (tussen die ouderdomme van 5 en 6) wat eerste in aksie was.
Die aksie en adrenalien het daarna stadig maar seker opgehou tot met die senior afdelings, wat vir ‘n aand van intense motorsport gesorg het.
Die tegnies uitdagende spronge het vaardigheid en vernuf tot op die uiterste beproef en tot die sukses van die byeenkoms bygedra.

Slade Smith het die kollig gesteel deur in die top senior afdelings, die SX 1 en SX 2 klasse, koning te kraai.
SA Supercross-reeks
Die SA Supercross-reeks is tans een van die opwindendste toevoegings tot die Suid-Afrikaanse motorsportkalender.
Nadat die sport vir ‘n geruime tyd hoofsaaklik op tradisionele Motocross (MX) gefokus het, het 2026 ‘n nuwe era ingelui met ‘n toegewyde nasionale Supercross-kampioenskap.
Voorheen het motocross op natuurlike terrein met lang bane plaasgevind; nou word Supercross op korter, kunsmatige bane (dikwels binne stadions of kompakte parke soos Sandtrax) aangebied.
Die bane bied meestal “whoops” (vinnige opeenvolgende hobbels) en massiewe spronge wat ryers tot 10 meter hoog in die lug kan stuur. Die wedrenne is korter en vinniger en propvol aksie.


