SASOLBURG – “Ons sukkel steeds om ons seun se dood te verwerk. Dit is nou reeds twee jaar later, maar omdat ons hom nooit kon begrawe soos ons graag wou nie, is dit ‘n emosionele nagmerrie.”
Jenny (66) en Johan (67) Schreuder moes nie net die hartseer deurmaak toe hul jongste seun sterf nie, hulle het ‘n verdere trauma beleef toe daar ‘n fout by die begrafnisondernemer was en die verkeerde liggaam vanuit KwaZulu-Natal huistoe gestuur is, terwyl hul seun in KwaZulu-Natal veras is.
Colin (34) en sy kinders het in Oktober 2023 saam met sy verloofde se gesin gaan vakansie hou.
Die noodlot het egter getref toe Colin se verloofde, Jenney Griessel, en haar pa deur ‘n seestroom by uMzumbe Beach meegesleur is.
Colin, wat op die strand was, het dadelik ingespring om hulle te gaan help. Jenney kon uitkom maar Colin en mnr. Johan Griessel is sowat ‘n kilometer verder deur die sleurstroom ingetrek.
Lewensredders het albei mans gou gevind en in ‘n bewustelose toestand strand toe gebring, maar hul lewens kon nie gered word nie.
‘n Laaste drukkie
“Toe Colin my daardie laaste vakansie gegroet het, het ek gevra hy moet my bietjie langer vashou want sy drukkie moet ‘n week hou. Ek het nooit gedink daardie drukkie sal my ‘n leeftyd moet hou nie,” sê ‘n steeds gebroke Jenny.
Om alles erger te maak het die hele reddingspoging voor Colin se kinders afgespeel.
“Colin se oudste seun het ons gebel en vertel oor die reddingspoging wat aan die gang was. Ons moes magteloos wag om te hoor. Toe kry ons die skoknuus dat albei mans gesterf het,” onthou Jenny.
Ouma en oupa is nou wettige voog van twee van Colin se kinders (10 en 11 jaar), terwyl die jongste seuntjie by sy ma woon.
“Die kinders se harte is steeds stukkend en hulle benodig beslis berading. Colin was hulle superhero-pappa,” sê Jenny.

Om die rede het sy besluit om die saak verder te voer en te kyk of hulle regstappe kan neem teen die betrokke begrafnisondernemer.
Die begrafnisonderneming het destyd mnr. Griessel se ligaam huistoe gestuur, instede van Colin sin.
Hoewel die begrafnisonderneming se HUB die Schreuders twee keer na die tyd persoonlik gekontak het om jammer te sê, en ook al die kostes van Colin se diens en verassing betaal het, maak dit nie die onsmaaklikheid vir die Schreuders beter nie.
“Ons kan nie tot rus kom met wat gebeur het nie. Sy jammer bring nie ons kind vir ons terug om hom te kan groet en afskeid te kan neem nie,” sê Jenny.
Regstappe
“Ons is egter pensionarisse en het nie die fondse om regstappe te neem nie. Ons het raad en ondersteuning nodig, of ‘n praktyk wat die saak kan hanteer en na afloop daarvan vergoed word,” sê Jenny.
Dit was die tweede keer dat die Schreuder-egpaar ‘n seun aan die dood afstaan. Hul seun Wayne is sowat vyf jaar voor Colin se dood aan ‘n seldsame siekte oorlede.
* Indien daar iemand is wat regsadvies of hulp aan die Schreuders kan bied, kan Jenny by 082 877 4500 gekontak word.

